|

Nuwe boek vertel oor ware verhale van Suid-Afrikaanse spioene

Deur Ilze Nieuwoudt en Jhua-Nine Wyrley-Birch

Suid-Afrika het vanaf 1963 tot 1994 oor een van die doeltreffendste  en mees professionele siviele intelligensiedienste ter wêreld beskik en die werk wat hulle gedoen het, het moontlik voorkom dat die land in ’n bloedbad ontaard. Die spioene uit dié era se verhale is in baie gevalle ook meer opspraakwekkend én ongelooflik as die spioenasieverhale waaroor fiksieboeke geskryf word.

Daarom het die intelligensiekundige Henning van Aswegen besluit om ’n boek te skryf oor die ware verhale van spioenasiegevallestudies wat ’n direkte of indirekte invloed op Suid-Afrika se geskiedenis gehad het.

Die boek, getiteld Spioenmeesters: Vriende, vyande en verraaiers van die 20ste eeu, is pas by Kraal Uitgewers uitgegee en is ’n versameling van 18 gevallestudies wat Van Aswegen as dosent in intelligensiekunde aan die Nasionale Intelligensie-akademie (NI) in Pretoria aan jong, aspirant spioene voorgehou het. “In die meerderheid van die gevalle in Spioenmeesters is die spioene gekompromitteer en baie het in die tronk beland. So hiermee het ons eintlik die studente geleer wat om nie te doen nie,” vertel Van Aswegen.

Dié Vrystater het ná matriek soos ander jongmanne van die tyd eers weermag toe gegaan en tydens sy diensplig sy joernalistiekstudie aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) aangepak. As student het hy vryskutwerk vir die Engelse dagblad The Star gedoen.

Dit was egter sy ander hoofvak – internasionale politiek – wat uiteindelik sy loopbaanpad sou bepaal. “Ek is deur die ou Buro vir Staatsveiligheid, wat in 1979 die Departement van Nasionale Veiligheid geword het, genader. Hulle was op soek na gegradueerdes wat kennis van politiek, staatsleer en interne politiek gehad het, en op dié manier het ek in die intelligensiediens beland,” verduidelik hy. ’n Vol loopbaan in die intelligensiebedryf het gevolg en nou kry hy uiteindelik kans om sy ander liefde uit te leef.

Die gevallestudies in Spioenmeesters is in storieformaat geskryf sodat almal, selfs kinders, dit kan geniet. Daar is ook ʼn intelligensie-woordelys in die boek, wat die eiesoortige en vreemde taal wat spioene praat verduidelik. 

Henning van Aswegen

Die gevallestudie wat handel oor Dieter Felix Gerhardt en sy Switserse eggenote, Ruth Johr,  is een wat vir Van Aswegen uitstaan. Gerhardt was hoof van die SA Vlootbasis in Simonstad en het inligting oor Suid-Afrika se wapenstelsels en gevegsgereedheid aan die Russe verkoop. Daarvoor het die Russiese Militêre Intelligensiediens, die Glavnoje Razvedyvatel’noje Upravlenije  (GRU), miljoene rande aan die Gerhardt-egpaar betaal. “Gerhardt het in Suid-Afrika se hele spioenasiegeskiedenis die meeste skade aan die land aangerig,” sê Van Aswegen.

Hy verduidelik dat die doel van die boek nie net is om interessante grepe uit die geskiedenis van spioenasie te bied nie, maar ook om die balans in die vertelling van die geskiedenis reg te stel én om waardering te toon vir die impak wat spioene en spioenmeesters op die verloop van die geskiedenis gehad het. “Die leierskap van NI het ’n deurslaggewende rol gespeel om uiteindelik die klimaat voor te berei vir onderhandelinge tussen die destydse regering en die ANC/SAKP… Die land het op ’n burgeroorlog afgestuur en met die vêrsiendheid en die inligting tot die NI se beskikking het die intelligensiediens die ekstra myl gestap en die regering en die opposisiepartye bymekaar uitgebring.”

Vrae soos wie die Russiese KGB-spioen was wat ’n bietjie Afrikaans kon praat en hoe Gerard Ludi daarin geslaag het om die SAKP te infiltreer, word in Spioenmeesters beantwoord. Die boek bevat ook talle ander verhale insluitend geheime van spioenasie en teenspioenasie wat gedurende die Anglo-Boereoorlog en die wêreldoorloë plaasgevind het en gebeure rakende Operasie Vula, die ANC komplot wat amper die vredesonderhandelinge van die 1990’s in die wiele gery het.

Spioenmeesters kan vir R380 by Kraal Uitgewers bestel word. Forum Nuus-lesers kan tot 30 November 2021 R100 korting op die boek ontvang, gebruik net die kode “Forum” by die betaalpunt op Kraal Uitgewers se webtuiste.

Soortgelyke plasings