|

Nuwe Forum Sekuriteit-beheerkamer se deure amptelik geopen

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch  

Toe ’n professor uit Stellenbosch destyds na die stigting van Akademia as ’n “belaglike pypdroom” verwys het, was Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, se reaksie daarop dat “die beweging groot droom, klein begin en aanhou groei”.    

In dieselfde gees het Forum Sekuriteit, ’n privaatsekuriteitsmaatskappy wat deur AfriForum ondersteun word, vandag sy nuwe beheerkamer by AfriForum se hoofkantoor in Centurion amptelik geopen.

Forum Sekuriteit is in 2019 as geakkrediteerde opleidingsverskaffer deur die Quality Council for Trades and Occupations (QCTO) onder die Safety and Security Sector Education and Training Authority (SASSETA) as deel van die South African Qualifications Authority (SAQA) geregistreer. Die maatskappy se registrasie as sekuriteitsmaatskappy is ook deur PSiRA goedgekeur.

Vanjaar se verwoestende onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng het opnuut gewys dat die SAPD nie gerat is om misdaad doeltreffend te beveg nie. Gemeenskappe maak toenemend staat op privaatsekuriteitsmaatskappye en buurtwagte om hul veiligheid te verseker.

Volgens Nic Arnold, uitvoerende hoof van Forum Sekuriteit, is dié maatskappy in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaatsekuriteitsdienste in Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog. “Ons fokus is hoofsaaklik kwesbare gemeenskappe soos skole, ouetehuise en landbougemeenskappe in afgesonderde en verafgeleë gebiede.”

Forum Sekuriteit se dienste sluit nabye beskermingspersoneel, opgeleide sekuriteitswagte, die beskerming van bates en personeel gedurende onluste, asook verskeie opleidingsgeleenthede in. Hul bied ook brandbestrydingskursusse en binnekort ook noodhulpopleiding aan.

Die nuwe beheerkamer, wat toegerus is met gevorderde sagteware en kameras wat deur AI Secure SA verskaf is, sal die maatskappy help om hul kommunikasie en insameling van inligting te verbeter sodat hul suksesvol met die polisie, ander privaatsekuriteitsmaatskappye en instansies kan koördineer en proaktief in noodgevalle kan optree om misdaad te bekamp. Die maatskappy het ook ’n  samewerkingsooreenkoms met AfriForum se meer as 150 plaaslike buurtwagte om hulp regoor die land te ontbied.

Verskeie skole, vakansieoorde en landbougemeenskappe het Forum Sekuriteit reeds gekontrakteer om veiligheidsdienste aan hul te verskaf.

Vir meer inligting oor Forum Sekuriteit en kursusse en werkwinkels besoek die Facebook-blad of webtuiste by www.forumsekuriteit.co.za

Foto’s: Reint Dykema

Soortgelyke plasings