|

NUWE VENNOOTSKAP SAL FAMILIEBOERE EN SAKE-ONDERNEMINGS HELP TEEN DRAKONIESE ARBEIDSWETGEWING

Deur Alet Rademeyer

Die familieboerorganisasie Saai en die werkgewersorganisasie National Employers Association of South Africa (Neasa) het vandag ’n ooreenkoms in Pretoria onderteken om arbeidskwessies in landbou te oorbrug en om boere te help met arbeidsprobleme.

Arbeidskwessies, in veral landbou, is tans ontsettend sensitief en boere is onder geweldige druk van die regering wat geen begrip hiervoor het nie.

Dié vennootskap het ten doel om groter druk op die regering te plaas om drakoniese en nie-werkbare wette en beleide te hersien of te verander. Dit behels verder dat gesprekke en onderhandelinge met vakbonde en die staat plaasvind en om strategiese rigting te gee aan klein en medium ondernemings en boerderye wat andersins geen stem by die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac), Business Unity South Africa (Busa) of die Departement van Indiensneming en Arbeid het nie.

Die vennootskap gee vir Neasa ’n beduidend groter voetspoor in die landboubedryf en bied aan Saai-lede direkte toegang tot arbeidsadvies, hulp en verteenwoordiging op verskeie nasionale arbeidsforums. Neasa het sowat 24 000 lede.

Gerhard Papenfus, uitvoerende hoof van Neasa, sê klein  en medium sakeondernemings, is die grootste skeppers van werksgeleenthede in die land, maar vyandige beleide en ’n regering wat geen begrip vir hul uitdagings het nie, lê hulle aan bande om te help om die ekonomie te groei. “Die geweldige druk op werkgewers om aan onrealistiese arbeidswette en –beleide te moet voldoen, maak hulle moedeloos en gevolglik probeer hulle sover moontlik om hul risiko’s te beperk deur byvoorbeeld so min werkers moontlik aan te stel en nie hul ondernemings uit te brei nie. Die regering verstaan nie die aard van besigheid nie. Die boodskap wat werkers van die regering kry, is een waaraan werkgewers nooit kan voldoen nie.”

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, sê boere is uitgelewer en arbeid is om verskeie redes ’n baie omstrede kwessie. “Terwyl die landbousektor feitlik die enigste is wat baie meer werksgeleenthede kan skep, maak die regering dit op verskeie terreine vir boere baie moeilik. Die styging van 16% in minimumlone is ’n terugslag vir familieboere wat dit eenvoudig nie kan bekostig nie en genoodsaak is om hul arbeiders te verminder. “Hierdie onrealistiese eise van die regering veroorsaak dat dit talle boere nie moontlik is om volhoubaar te boer nie. Dit het weer ’n impak op die voortbestaan van mense in klein dorpies wat op hul beurt weer dienste aan boere lewer. Verstedeliking neem toe omdat klein dorpies in duie stort en dit veroorsaak weer ’n toename in werkloosheid en armoede,” sê De Jager.

Nog probleme waarmee boere te kampe het, is die huurarbeiderstelsel, verblyfreg op plase, die miskenning van hul regte en onrealistiese verwagtinge van plaasarbeiders. Dit lei toenemend tot arbeidsonrus en met die nuwe vennootskap hoop Saai en Neasa om boere op ’n vinnige en dringende basis te kan bystaan met advies en oplossings om arbeidskwessies te besleg.

De Jager wys daarop dat hierdie nie ’n raskwessie is nie en dat swart boere op plase wat hulle van die staat kry net soveel probleme met arbeiders het. Arbeiders maak aanspraak daarop dat hulle ook plase wil hê of in die inkomste van boere wil deel.

Volgens De Jager voel klein- en mediumgrootte boere meer dikwels in die spervuur van politieke uitsprake en media-aantygings wat voorgee dat alle boere uitbuiters, slawedrywers en wetsongehoorsames is eerder as dat hulle as vennote betrek kan word om te help om werk te skep waar Suid-Afrika dit die nodigste het, naamlik in die diep landelike gebiede.

“Landbou as werkgewer presteer op terreine waar geen ander sektor kan meedoen nie. Boere neem mense in diens wat geen ander plek in die arbeidsmark het nie; die mees ongekwalifiseerde, mees onervare en vaardigheidarmstes en mees ontoegeruste werksoekers in die plattelandse gebiede word op plase geakkommodeer.

“Miljoene mense verwerf hulle basiese vaardighede vir ander loopbane op ’n plaas. Hulle leer daar om ’n trekker te bestuur, dan ’n bakkie en dan ’n trokkie en word uiteindelik die bestuurders van swaar vragmotors wat Suid-Afrika se logistieke ratte laat draai. Landbouwerkgewers lei mense op vir baie ander sektore in die ekonomie.

“Plaaswerkers word nooit ryk nie, maar hulle ly ook nooit honger nie. Waar voedselproduksie op kommersiële plase gedy, eet veel meer as net plaaswerkers, hulle gesinne en uitgebreide families van daardie plase af. Waar hulle hulle werk vanweë onbekostigbare minimumlone of ander arbeidsregulasies verloor, het die staat ’n jammerlike rekord van versuim om vir hulle te sorg of om honger gesinne te ondersteun,” sê De Jager.

De Jager sê hoewel landbou slegs sowat 2,5% tot die bruto nasionale produk bydra, skep dit byna 5% van alle werkgeleenthede direk op plase en ’n verdere 12% elders in die waardekettings. “Suid-Afrika het die hoogste werkloosheidsyfer in die geskiedenis. As die regering nie hande met die boere van die land vat om te help om geleenthede ingevolge billike arbeidswetgewing te skep nie, sal daar maar net voortgegaan word om die draak van honger en armoede te bly voer.”

Soortgelyke plasings