|

Nzimande was met speletjies besig oor Afrikaans en Khoi- en Santale

Dit is verblydende nuus dat die DA minister Blade Nzimande sover gekry het om te bewys dat hy met politieke speletjies besig was betreffende die herdefinisie van Afrikaans en die Khoi- en Santale as sogenaamde uitheemse tale van Suid-Afrika.

Nzimande se Departement van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie het naamlik in die taalbeleidsraamwerk vir openbare hoëronderwysinstellings aangevoer dat dié tale nie inheems is nie en dat veral moeite gedoen moet word om inheemse tale te bevorder.

In die departement se regsmening oor die kwessie beveel twee regsgeleerdes egter aan dat die minister dit moet oorweeg om die beleidsraamwerk wat in 2021 goedgekeur is en in Januarie 2022 in werking getree het, te wysig sodat die inheemse status van Afrikaans en die Khoi- en Santale daarin erken word.

Die hele eierdans wat moes plaasvind om uiteindelik die minister te dwing om die regsmening openbaar te maak, is net ’n verdere bewys van sy moedswillige en ja, selfs kwaadwillige standpunt teenoor die tale, en meer spesifiek Afrikaans.

Dit bewys hoe ver die minister se ideologiese onderrok uithang, maar verder beteken dit weinig wat die behoud van Afrikaans aanbetref. Die minister het in die eerste plek nog nie die taalbeleid verander nie en al het sy departement se regsmening dit aanbeveel, beteken dit nie dat hy verplig is om dit te doen nie.

Verder was die standpunt dié van slegs een departement binne die regering – Kuns en Kultuur, Basiese Onderrig en vele ander het nog nooit die inheemse status betwis nie.

Die beleid het verder ook geen rol gespeel in die proses om Afrikaans as onderrigtaal uit die universiteite van Johannesburg, die Wes-Kaap, Pretoria, die Vrystaat, Stellenbosch, Suid-Afrika en deels ook Noordwes te verdring nie – dit het alles al jare tevore plaasgevind, selfs voor die beleid eers opgestel is. Nog minder het dit enige rol gespeel of beïnvloed dit wat met Afrikaans in ander sektore, soos primêre en sekondêre onderwys, die regswese en die ekonomie gebeur.

Op al hierdie terreine gaan die stryd vir die behoud van Afrikaans onvermoeid voort – van regsaksie van Cerneels Lourens, AfriForum en ander om wetgewing steeds in Afrikaans en ander inheemse tale te publiseer, tot die huidige teenstand teen die Wysigingswetsontwerp oor Basiese Onderwyswette (sien https://afriforum.co.za/stop-die-aanslag-teen-afrikaans-afrikaanse-skole-en-afrikaanse-kinders/).

Die regsmening van Nzimande bewys verder dat die teenstand teen Afrikaans beslis nie op ’n einde is nie, maar net soos een of ander mitologiese monster van vorm verander voor dit verder voortbeur. Die regslui versoek Nzimande byvoorbeeld om te oorweeg dat die beleid se definisie van inheemse tale verander word na “voorheen gemarginaliseerde inheemse tale”. Natuurlik weet ons dat Afrikaans juis as voorheen bevoordeelde taal gebrandmerk word en dus sal die nuwe definisie steeds as instrument kan dien om Afrikaans uit bevorderingsaksies uit te sluit.

Dit is wel interessant dat die regsmening verwys na die Konstitusionele Hof se uitsprake oor die status van Afrikaans. ’n Hoogtepunt in die hof se aanhoor van sake oor taalbeleid was toe regter Steven Majiedt in 2021 in die saak van AfriForum versus die bestuur van die Unisa die universiteit se regsverteenwoordiger gevra het dat as Afrikaans nie inheems aan Suid-Afrika is nie, waar dit dan inheems sou wees (sien: https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/video-regter-kap-unisa-regsman-oor-uitheemse-afrikaans/).

AfriForum het onder heelwat kritiek deurgeloop vir ons regsaksies wat oor die uitfasering van Afrikaanse onderrig op universiteitsvlak gevoer is, maar nou blyk dit hoe belangrik howe se bevestiging van Afrikaans se status vir die toekoms van die taal is.

Alle inheemse tale verdien om deur die staat bevorder te word, maar dit raak by die dag duideliker dat die kundigheid en politieke wil om dit te doen, geheel en al ontbreek. Daarom is dit goed om belaglike ideologiese toertjies soos die veruitheemsing van Afrikaans en die Khoi- en Santale te beveg, maar lê die belangrikste rol wat ons kan speel in gemeenskappe se eie hande wanneer hulle instellings, produkte en geleenthede skep wat hierdie tale lewendig hou.

Soortgelyke plasings