|

OG-verslag eggo AfriForum se kommer oor toestand van munisipaliteite

Slegs 34 van die 257 munisipaliteite in Suid-Afrika het skoon oudits van die ouditeur-generaal (OG) ontvang vir die 2022/23-boekjaar – dít is ’n skamele 13%. Volgens AfriForum beklemtoon dié verslag net wat hy al vir jare sê – munisipale bestuur het in duie gestort as gevolg van wanbestuur en ’n gebrek aan kennis. Die burgerregteorganisasie doen opnuut ’n beroep op munisipaliteite om hande te vat en saam oplossings te vind vir drukkende kwessies.

Voorts het slegs 45 munisipaliteite ’n verbetering getoon en 36 munisipaliteite het sedert die 2020/21-oudit agteruitgegaan. Die OG het in besonder klem geplaas op die 77 munisipaliteite wat in ’n siklus van ongekwalifiseerde ouditmenings verkeer en nie ’n poging aanwend om ’n skoner oudit te ontvang nie, dít terwyl gemeenskappe sonder basiese dienslewering moet klaarkom. Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit is veral as een van die skuldiges uitgewys in die OG-verslag. AfriForum het oor die afgelope paar jaar talle klagtes teen die Ngwathe-munisipaliteit gelê veral oor hul onvermoë om skoon, lopende water aan gemeenskappe te voorsien.

Hoewel die OG-verslag bevestig dat wanbesteding, korrupte tenderprosesse en onbehoorlike invorderingsmeganismes munisipaliteite finansieel lamlê meen AfriForum dat die probleem verder as munisipaliteite strek. Volgens AfriForum strek die probleem tot in provinsiale en nasionale departemente soos die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake en die Nasionale en Provinsiale Tesouriers.

“Hierdie verslag skets ’n donker prentjie oor die daaglikse realiteite van talle gemeenskappe waar die krane droog is, die paaie ontoegangbaar is en infrastruktuur aan flarde hang terwyl munisipale amptenare net hande gevou staan of skouers optrek,” sê Deidré Steffens, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum. “Dit is lankal tyd dat munisipaliteite hande vat met burgerlike organisasies wat wíl help. AfriForum het al verskeie kere sy hulp aan sukkelende munisipaliteite aangebied en die OG se verslag maak dit duidelik dat munisipaliteite eenvoudig nie meer kan bekostig om hulp van die hand te wys nie.”

Ingrypingsmiddele soos uiteengesit in artikel 139 van die Grondwet maak voorsiening vir provinsiale regerings om by verbrokkelende munisipaliteite in te gryp, maar tot dusver was daar min gevalle van suksesvolle ingryping. “Ons sien wel dat amptenare hierdie ingrypingsprosesse afdwing om net verder ’n politieke magspeletjie in munisipaliteite te voer.”

Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, het wel vandag aangekondig dat hy binne 21 dae ’n plan sal voorlê om wanfunksionele munisipaliteite om te swaai. AfriForum verwelkom Hlabisa se ywerigheid, maar die organisasie maan die minister dat planne op papier niks werd is as dit nooit geïmplementeer word nie.

“Die OG, Hlabisa en die minister van Finansies, Enoch Godongwana, moet ook koppe bymekaarsit en besluit hoe hulle munisipale amptenare wat hul mag misbruik en munisipaliteite in die grond in bestuur aanspreeklik gaan hou vir hul dade. Dít gaan ook help om wanbestuur, wanbesteding en korrupsie in munisipaliteite stopgesit gaan word,” sluit Steffens af.

Soortgelyke plasings