OG-verslag wys ANC-wanbestuur dompel munisipaliteite in chaos


Die burgerregte-organisasie AfriForum is van mening dat die ANC se wanbestuur munisipaliteite in chaos gedompel het. Die Ouditeur-Generaal (OG) se 2016/17- munisipale-ouditverslag dui daarop dat munisipaliteite beduidend ten opsigte van oudituitkomste verswak het.
Morné Mostert, hoof van plaaslikeregeringsake by AfriForum, sê die Openbare Beskermer se staatskapingsverslag toon dat staatstrukture nie verantwoordbaarheid kan afdwing nie.

“Hierdie instansies is om politieke redes nie bereid om onwettige optrede en swak bestuur hok te slaan nie. Die vraag is nou of die tesourie hoegenaamd fondse aan munisipaliteite behoort toe te vertrou indien munisipaliteite nie eers bewyse kan lewer oor hoe dié geld bestee word nie?”

Die OG het ook pertinent uitgewys dat plaaslikeregeringsfere duidelik versuim om verantwoordbaarheid te bevorder en dat daar nie gevolge vir wanbestuur is nie. Slegs 16 munisipaliteite se oudituitkomste het verbeter, terwyl 45 versleg het. Onreëlmatige besteding het verder met 75% verhoog.
Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum, sê daar word bloot geen ag op die OG se advies geslaan nie.

“Die OG het die swak bestuur van munisipaliteite prominent en prontuit in sy jongste ouditverslag gestel. Hierdie uitlatings strook ook met wat Nhlanhla Nene, minister van finansies, asook Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, sedert die begin van die jaar oor probleme in die plaaslikeregeringsfeer sê. Niemand kan hierdie krisis langer ontken nie.”

Brink voer voorts aan dat provinsies wat deur die ANC op provinsiale en munisipale vlak gedomineer word, veral verswakking vertoon.

“Dit is simptomaties van die ANC se korrupsie, wanbestuur en swak beleide soos kaderontplooiing. In KwaZulu-Natal het 13 munisipaliteite se oudituitslae versleg, terwyl sewe in die Vrystaat verswak het en geen munisipaliteit daar verbeter het nie. Tog is Ace Magashule, onder wie se premierskap die Vrystaat hierdie agteruitgang ervaar het, vandag die ANC se sekretaris-generaal.”

Volgens AfriForum is die antwoord vir munisipale kwale dat gemeenskappe self verantwoordelikheid vir hul dorpe neem eerder as om vir die staat te wag om dienste te lewer.

Soortgelyke plasings