|

Oktober – AfriForum se Maand van Selfstandigheid

AfriForum het vandag sy Maand van Selfstandigheid-veldtog van stapel gestuur met groot padveiligheid-aksies in Kempton Park, Centurion en Alberton.

Die burgerregte-organisasie gaan tydens dié projek R2 miljoen aan die munisipale padinfrastruktuur van dorpe met aktiewe AfriForum-takke bestee. Paaie gaan herstel en opgegradeer word en stoptekens wat verwyder is vervang word. Voetoorgange en spoedhobbels gaan ook geverf word.

Die projek gaan tydens Oktober nasionaal na verskeie ander dorpe uitgebrei word.

Die Maand van Selfstandigheid spruit uit AfriForum se 10 Dae van Selfstandigheid-veldtog wat verlede jaar gehou is. Tydens dié veldtog is sowat 200 selfdoen-aksies binne tien dae uitgevoer. Die burgerregte-organisasie het vanjaar onderneem om ʼn groter impak in gemeenskappe te maak deur ʼn hele maand op een spesifieke munisipale kwessie te fokus.

Die burgerregte-organisasie het ook vroeër vanjaar gedurende sy nasionale slaggatmaand-veldtog bykans 16 000 slaggate teen R2 479 000 landwyd herstel.
Volgens Hein Gonzales, AfriForum se projekwoordvoerder, het AfriForum besluit om die Maand van Selfstandigheid-veldtog aan te pak nadat hul in September vanjaar ’n veiligheidsoudit op munisipale paaie gedoen het. Dié oudit het bevind dat sommige paaie nie aan die minimumvereistes voldoen wat in toepaslike wetgewing en regulasies uiteengesit word nie.

Gonzales meen dat baie gemeenskappe gekonfronteer word met hierdie tipe grootskaalse munisipale krisisse wat inwoners onder geweldige druk plaas.
“Met hierdie veldtog wil AfriForum vir gemeenskappe wys dat hulle nie in die staat se oë hoef te kyk vir goeie dienslewering nie. Ons gaan dit doen deur projekte van stapel te stuur wat hulle bemagtig en die geleentheid gee om hul regte tot ʼn skoon en veilige omgewing in hul eie hande te neem.”

Volgens Gonzales het gemeenskappe die mag om die regering tot verantwoording te roep waar daar versuim word om dié verpligtinge na te kom. Hy sê voorts dat daar ’n wesenlike verskil gemaak kan word wanneer gemeenskappe besluit om saam te staan.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is gemeenskappe in staat om suksesvolle selfdoen-aksies aan te pak. “’n Gebrek aan politieke mag beteken nie dat ons magteloos is nie,” het hy gesê.

Wys jou steun vir dié aksie en SMS “Selfdoen” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings