|

Om identiteit te beskerm, is nie eksklusief nie

Om vir jou identiteit op te staan en dit te wil beskerm, beteken nie jy is meerderwaardig of eksklusief nie.

So meen Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, wat vandag die kwessie van identiteit by AfriForum se derde nasionale kongres belig het.

“Mense dink maklik geskiedenis of taal is ’n luukse in krisistye, maar dis die kern van elke aksie wat die burgerregte-organisasie aanpak.

“As ons as Afrikaners blywend vry, veilig en voorspoedig hier wil voortbestaan, is ons identiteit ononderhandelbaar. Dit is die sukses en toekoms wat ons bou en daarom glo ons om fakkeldraers vir ons nageslag te wees.”

Volgens Bailey is identiteit sentraal in debatte wat regoor die wêreld gevoer word en kan dit nie onderdruk word nie.

Sy het daarop gewys dat mense ook ’n veelheid van identiteite kan hê en dat een identiteit nie belangriker of beter as ’n ander is nie. “Om jou identiteit uit te leef en op te eis, beteken nie jy is eksklusief nie. Die regte wat ons opeis is nie net vir onsself nie. As ons vir skoon drinkwater vra, is dit nie net vir ons as minderheidsgroep nie. Dis vir almal.

“Ons moet egter vir ons identiteit werk omdat dit nie vanselfsprekend beskerm sal word nie.”

Bailey het gewys op die praktiese voorbeelde waardeur AfriForum identiteit bevorder. Dit sluit projekte ter bevordering van moedertaalonderrig in soos Dink of Sink.

AfriForum beywer hom ook vir die behoud van plekname en monumente. “Ons word dikwels gevra hoekom ons aandag hieraan gee, terwyl daar groter probleme in die land is. Plekname en monumente is verlengings van ons identiteit. As ons toelaat dat daarmee weggedoen word of dat monumente geskuif word, erken ons dat ons nie meer in die openbare ruimtes welkom is nie. En dan sê ons ons aanvaar dat ons uitgeskuif word.”

Soortgelyke plasings