|

Omgee-hande hou erfenis en grafte in stand

Vir baie AfriForum-lede is die finale rusplek van hul geliefdes ’n saak wat hul baie na aan die hart lê.

Dit is algemeen bekend dat die verval van munisipaliteite landwyd meegebring het dat begraafplase nie meer skoongemaak en in stand gehou word nie. Dit is ook in talle gevalle deesdae baie onveilig vir mense om die grafte van hul geliefdes te besoek om dit self skoon te maak. Indien hulle dit nog wel kan doen, is dit hartverskeurend en traumaties om te sien hoe die terreine verwaarloos en selfs geplunder word.

Andries Bekker, eienaar van We Care Grave Maintenance, het sowat twee jaar gelede ’n dringende behoefte by mense en gemeenskappe gesien en met ’n unieke plan vorendag gekom om hulle te help om die grafte van hul geliefdes weer te restoureer en in stand te hou.

Hy was ook nou betrokke by ’n projek van  AfriForum Jeug wat ’n bedrag van R 5 500 geskenk het om die grafte van dr. Herman Dirk van Broekhuizen en Elsje Francina van Broekhuizen in die Rebeccastraat-begraafplaas in Pretoria-Wes te herstel. Dr. Herman Dirk van Broekhuizen was een van die vroegste spelers in die Suid-Afrikaanse nasionale rugbyspan. Elsje Francina van Broekhuizen (née Eloff), sy vrou, was die kleindogter van Paul Kruger.

Bekker het reeds meer as honderd kliënte wat van sy diens gebruik maak. Hulle werk tans hoofsaaklik in die Zandfontein-, Pretoria-Oos-, Pretoria-Wes- en Heatherdale-begraafplase, maar is bereid om ook elders in te gryp indien daar genoeg belangstelling is.

Bekker, wat ook ’n passie vir erfenisbewaring het, wil ook meer betrokke raak by die herstel, skoonmaak en instandhouding van familiekerkhowe of ander begraafplase van historiese belang.

Die diens wat Bekker aanbied, behels dat ’n graf maandeliks teen R150 skoongemaak en in stand gehou word. Vir ’n dubbelgraf is dit R300 om dit maandeliks te diens. Kliënte kan ook besluit of hul dit kwartaalliks of net eenmalig wil laat doen. Indien dit maandeliks gedoen word, word dit min of meer op dieselfde dag van elke maand gedoen en kliënte ontvang ook foto’s ná die werk afgehandel is.

“Dit is so bevredigend om terugvoer van ons kliënte te kry. Hulle is so dankbaar om te sien dat hul geliefdes se rusplekke versorg word en nie deur gras oorgroei word nie.

“Baie van ons kliënte woon ook te ver van die grafte van hul geliefdes of hulle het nie tyd om daarby uit te kom nie. Baie keer het hulle weer nie die nodige toerusting of tuingereedskap byderhand om die instandhouding of skoonmaakwerk te doen as hulle die grafte besoek nie.”

Die maandelikse diens sluit in die skoonmaak, gras sny en poleer van die grafstene. Waar die skrif weens verwering verdof, word dit ook reggemaak en vars blomme word op die graf geplaas. Indien dit nodig is, kan Bekker teen ’n bykomende koste beskadigde grafte en grafstene ook restoureer, grafte wat ingesak het herstel of nuwe kopstukke aanbring.

Bekker en sy span stuur ook ’n spesiale boodskap aan kliënte op die verjaardae van hul geliefdes wat hul ontval het. “Mense waardeer dit baie om te weet iemand dink aan hulle op sulke dae.”

Volgens Bekker vind hy bevrediging uit die werk omdat hy weet hy ’n diens kan lewer wat ander nie meer self kan doen nie. “Soveel mense het al hul dank uitgespreek as hulle by hul geliefdes se grafte gaan kuier en gesien het dat dit mooi, skoon en netjies is. Vir baie maak dit die hartseer ook bietjie minder.”

Belangstellendes of AfriForum-lede wat van die diens gebruik wil maak, kan ’n e-pos stuur na driesbekker0707@gmail.com of besoek hulle Facebookblad vir meer inligting.

Soortgelyke plasings