|

Omstrede LUR vir onderwys moet gestuit word

 

 

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR van Onderwys, se planne om Afrikaanse skole te vernietig, sal met hand en tand beveg word.

AfriForum het met ’n omvattende veldtog teen Lesufi begin wat hom die afgelope paar maande vir die soveelste keer die argwaan van die publiek op die hals gehaal.

Hy het met die een omstrede voorstel na die ander vorendag gekom en wil selfs sover gaan om die Skolewet te verander sodat hy alleen oor skole se taal-, toelatings- en godsdiensbeleid kan besluit. Hy wil ook ’n groter sê in die aanstel van onderwyspersoneel by ’n skool hê.

In sy jongste aanslag het hy gedreig om Afrikaanse skole te dwing om meer as 24 000 Engelssprekende leerlinge in 2016 in te neem aangesien daar nie genoeg plek vir almal in skole is nie.

Lesufi se ondeurdagte en rassistiese optrede het AfriForum genoop om met ’n omvattende veldtog (Red Afrikaanse Skole) te begin.

’n #Lesufimoetval-veldtog is ook begin omdat hy  deurentyd agter die skerms besig is om Afrikaanse skole te teiken om ook van enkelmedium na parallelmedium oor te skakel. Dit het tot ’n hofstryd gelei wat nog nie afgehandel  is nie. ’n Tussentydse hofbevel is toegestaan wat hom gekeer het om by die taalbeleid in te meng en wat die bevoegdheid om oor taal- en toelatingsbeleid te besluit steeds in die hande van beheerliggame plaas.

Die idee van sogenaamde “tweeling-skole”, waar goed funksionerende skole met sukkelendes moet saamsmelt, is nóg ’n Lesufi-idee wat die wind van voor gekry het.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê Lesufi moet in die lig van sy onderdeurdagte planne en uitlatings summier bedank.

“Die Skolewet bepaal tans dat beheerliggame onder meer besluit oor skole se taal-, toelatings-, godsdiens- en aanstellingsbeleid – ʼn proses wat volgens AfriForum demokraties is en verseker dat skole hulle gemeenskappe dien.

“Die LUR het nie die mag om wetgewing te hersien nie. Hy ontstig mense en tree nie in die belang van onderwys in die provinsie op nie.”

Wat die veldtog betref, het Bailey gesê ’n klag gaan ook by die 185-kommissie vir die bevordering en beskerming van kultuur-, godsdiens- en taalregte ingedien word. ’n Memorandum sal aan pres. Jacob Zuma oorhandig word en ’n klag sal ook by die Verenigde Nasies ingedien word.

Die publiek word ook versoek om ’n petisie ter ondersteuning van die Red Afrikaanse Skole-veldtog te onderteken.

Talle onderwyskundiges meen Lesufi is met niks anders as goedkoop politiekery besig nie. Hy word daarvan beskuldig dat hy nie die mas as LUR kan opkom om sukkelende disfunksionele skole reg te ruk nie en daarom is sy visier op veral Afrikaanse skole waar gehalte-onderrig nog gegee word.

Lesufi, maak soos sy voorgangers dieselfde fout deurdat hulle nie behoorlik vir onderwys in Gauteng kan beplan nie.

“Lesufi is ’n arrogante politikus wat oral waar hy gaan besig is om vir hom vyande in die onderwys te maak,” het ’n kenner gesê.

 

Soortgelyke plasings