|

Omstrede wetsontwerp oor rassisme nou beskikbaar vir openbare kommentaar

As die omstrede Wetsontwerp op die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdade en Haatspraak in sy huidige vorm aanvaar word, kan Suid-Afrikaners wat hulle aan enige vorm van rassisme skuldig maak tot tien jaar tronkstraf opgelê word.

Die wetsontwerp is verlede week deur die kabinet goedgekeur. Adv. Michael Masutha, minister van justisie, het gister tydens ʼn mediakonferensie aangekondig dat alle belanghebbendes en individue tot 1 Desember vanjaar geleentheid het om insette te lewer en voorleggings te maak oor die wetsontwerp.

Dié wetsontwerp is op die departement se webtuiste by www.justice.gov.za beskikbaar vir kommentaar.

Ingevolge die wetsontwerp is enige onwettige partydigheid, vooroordeel of onverdraagsaamheid wat gegrond is op onderstaande en wat tot haatmisdaad kan lei, strafbaar. Haatmisdade sluit in enige erkende misdaad soos moord, poging tot moord, verkragting, roof, aanranding, huisbraak, crimen injuria en brandstigting.

Onwettige partydigheid, vooroordeel of onverdraagsaamheid gegrond op ras, taal, kultuur, etniese of maatskaplike afkoms, velkleur, seksuele oriëntasie, geloof, oortuiging, geboorte, MIV/vigs-status, nasionaliteit, geslagsidentiteit, interseksisme, albinisme en beroep of ambag, is ingevolge die wetsontwerp strafbaar.

Die wetsontwerp maak ook voorsiening vir haatspraak op sosiale media-platforms.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandeesweek sy voorbehoud oor dié wetsontwerp uitgespreek.

Volgens Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, is die burgerregte-organisasie bekommerd dat die wet moontlik op ʼn selektiewe wyse toegepas sal word, soos wat blyk uit verskeie uitsprake deur ANC-woordvoerders.

Hy meen dat hoewel AfriForum sterk daaroor voel dat rassisme beveg moet word, die ANC reeds bewys het dat hy nie tussen staat en party kan onderskei nie. “Die ANC is ʼn aktiewe rolspeler in die rassisme debat. As die staat gaan begin om rassisme, wat ʼn sosiale kwessie is, te reguleer, gaan dit effektief beteken dat die ANC beide rolspeler en skeidsregter gaan wees.”

Verskeie ander aktivistiese organisasies en politieke ontleders het ook hul bedenkinge oor die wetsontwerp en veral die regverdige toepassing daarvan uitgespreek.

Soortgelyke plasings