|

Onbemande polisiestasie in landelike gebied is skreiend nalatig

Suid-Afrikaners is omgekrap oor ’n video wat ’n lid van die publiek vandeesweek by die Assen-polisiestasie buite Brits in Noordwes geneem het waarop dit duidelik is dat die stasie geheel en al onbeman was.
Op die video kan gesien word dat daar geen polisielid by enige van die lessenaars of telefone is nie. Die kluis, waarin wapens gewoonlik gehou word, was toegangklik, terwyl daar ook dossiere oop en bloot gelê het.

Die man wat die video met sy selfoon geneem het, en uit vrees vir viktimisering anoniem wil bly, het gesê hy het ’n verdagte na die stasie gebring en was geskok gewees toe hy niemand daar aangetref het nie. Hy het aan Forum Nuus gesê hy het deur die hele stasie en buite om geloop en hard na mense geroep. Niemand het uitgekom nie.
Volgens hom het die polisielede na 45 minute op ’n oop bakkie aangery gekom. “Nou wonder ons waar die land se misdaad heen gaan as dit só by polisiestasies gaan.”

Dr. Johan Burger, senior navorser by die Instituut vir Sekerheidstudies, het gesê dit is onaanvaarbaar dat ’n polisiestasie wat oop is heeltemal onbeman is. “In die verlede was daar sekere stasies wat beperkte dienste gelewer het en net sekere ure oop was. Die stasies moet egter gesluit wees as daar niemand aan diens is nie.”

Dr. Chris de Kock, onafhanklike analis en voormalige hoof van die polisie se misdaadanalise-afdeling, het gesê die toedrag van sake moet dringend ondersoek word. “Dit is totaal onaanvaarbaar en ongehoord dat ’n stasie oop staan en niemand diens doen nie.”
De Kock meen dit is growwe nalatigheid om ’n stasie oop en onbeman te laat. “Enigiemand kan mos daar inkom en dossiere neem om aan die skuldiges te gaan verkoop. Net so kan die kluise oopgebreek word en misdadigers toegang tot wapens gee.
“Dit wil voorkom asof daar geen beheer by die Assen-polisiestasie is nie.”
De Kock meen die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) moet die saak ondersoek en daar moet dissiplinêr teen polisielede opgetree word.

De Kock het ook daarna verwys dat daar gereeld misdade in die Brits-omgewing is.
Sedert 2012 is die bokslegende Corrie Sanders, Mauritz Oberholzer en Andries Snyman in verskillende aanvalle vermoor. Hannes en Annatjie van der Merwe is op hul hoewe wreed aangeval en gemartel. In 2013 het agt renosterhorings uit die Assen-polisiestasie buite Brits verdwyn. Die saak is ondersoek omdat net die polisiebeamptes die sleutels en toegang tot die stoor gehad het.

AfriForum het die polisie oor Assen genader en is ingelig dat die saak reeds ondersoek word. Die polisiebeamptes wat aan diens was en by die stasie moes wees, sal ook ondersoek word. Intussen is ’n nuwe stasiebevelvoerder aangestel wat vandag daar begin werk het.

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, het gesê dit is onaanvaarbaar dat polisiestasies, in veral landelike gebiede nie beman is nie. “Gemeenskappe in landelike en afgesonderde gebiede is juis baie kwesbaar, weerloos en uitgelewer. Gegewe die hoë vlak van plaasaanvalle en –moorde in die land, kan ’n situasie nie geduld word waar polisiestasies onbeman is nie.”

Sien die video hier

Soortgelyke plasings