|

Onderrig moet soos vermaak wees, sê direkteur by Nasa

Tegnologie het die wêreld verander en tegnologie het meegebring dat kinders vandag anders onderrig moet word.

Dit was vandag die boodskap van dr. Japie van Zyl, direkteur van Sonnestelselverkenning by Nasa se straalaandrywingslaboratorium, wat via Skype aan die leierskapkongres van die Skoleondersteuningsentrum (SOS) van Solidariteit Helpende Hand deelgeneem het.

Van Zyl is na 36 jaar in die VSA steeds trots Afrikaans en het sy voorlegging ook in sy moedertaal gedoen.

Sy boodskap aan meer as 500 onderwysers wat die kongres bywoon, is dat hulle ’n geweldige belangrike taak het om die leiers van môre op te lei.

Van Zyl sê dit wil voorkom asof kinders vandag ’n baie kort aandagspan het en dat hulle glad nie daarop ingestel is om inligting te onthou nie. Hulle is in elk geval gewoond daaraan om alle inligting op die internet te kry.

Volgens Van Zyl moet onderwysers onderrigtegnieke en –metodes gebruik wat op virtuele en versterkte (augmented) realiteit fokus omdat kinders alles in beelde wil sien en ervaar. “Ons moet kinders se verbeelding in die klaskamer aangryp en hul opgewonde vir leer maak. Kinders is gewoond aan rekenaarspeletjies en daarom moet onderrig in vermaak verander.”

Hy sê daar is baie toepassings wat onderwysers met groot sukses in die klaskamer kan gebruik.

Hy het verskeie vrae uit die gehoor beantwoord oor kwessies soos aardverwarming, ander Suid-Afrikaners wat by Nasa werk en watter invloed sy werk op sy siening van die Skepping het.

Van Zyl sê hy is elke dag bewus van hoe oneindig groot die heelal is en hoe min hy weet van wat alles aangaan.

Van Zyl het verlede week in ’n radio-onderhoud gepraat oor hoe belangrik kwalifikasies is. Hy het gesê die gehalte van onderrig wat hy op skool en aan die Universiteit van Stellenbosch gekry het, het ’n goeie grondslag vir sy verdere studie gelê. Hy het ook gesê hoewel kwalifikasies belangrik is, is vaardighede soos nuuskierigheid en deursettingsvermoë belangriker om sukses te behaal.

 

Soortgelyke plasings