|

Ondersoek na privaat gesondheidsorg ’n slinkse set vir staatsinmenging

Daar hang so baie vraagtekens oor die Mededingingskommissie se twyfelagtige en belaglik duur ondersoek na die privaat gesondheidsorgmark dat dit moeilik is om te weet waar om te begin om dit te ontleed en te kritiseer.

Na berig word, het dit meer as R200 miljoen gekos en vyf jaar geneem om te voltooi. Met deeglikheid is daar niks fout nie, maar die koste van hierdie verslag is buitensporig en die geld kon beter aangewend gewees het. Bowendien is die verslag se omvang onvoldoende in die lig van die bevindings en onvolledigheid daarvan en hoe lank dit geneem het om saam te stel.

Die verslag beskuldig basies Netcare, Mediclinic en Life van monopolistiese gedrag in die privaathospitaalsektor. Dat hulle die leeueaandeel van privaat hospitale in Suid-Afrika besit is waar, maar dit is belaglik en onredelik om hulle vir hulle sukses te veroordeel.

Volgens die verslag monopoliseer hierdie rolspelers die mark en hou hulle kleiner rolspelers uit terwyl hulle pryse hoog hou. My eie navorsing vanjaar toon dat groter rolspelers nie toegelaat word om uit te brei of bykomende fasiliteite in stede en dorpe dwarsoor die land te bou nie, maar dat kleiner rolspelers ook nie die gaping benut nie. Uitvoerende hoofde van privaat hospitale in verskeie dele van die land het aan my gesê dat hulle al so lank gelede as 2016 en 2017 aansoeke vir ekstra beddens en fasiliteite (om meer spesialisdienste te lewer) ingedien het. Die staat bring eenvoudig nie sy kant om hierdie aansoeke goed te keur nie. Daar is dus ’n groeiende vraag na meer gesondheidsorgdienste van gehalte op baie plekke dwarsoor die land, grond is beskikbaar, die hospitaalgroepe loop al die risiko’s en tog verseg die regering om die lisensies toe te staan.

Die rede wat dikwels verstrek word, is dat daar genoeg beddens in ’n sekere gebied is. Dit is moeilik om te bepaal of dit wel so is, maar waarom sal ’n privaat hospitaal ’n risiko loop as hy nie seker is dat hy die vraag sal kan absorbeer nie? Die ander aspek van hierdie berekening is dat dit openbare hospitale in die prentjie bring. In die Wes-Kaap is dit dikwels nie ’n probleem nie omdat gesondheidsorg in die openbare sektor in ’n goeie toestand is. Maar selfs daar is die vraag groter as die aanbod omdat die bevolking op baie plekke groei, en die privaat sektor het ’n groeiende rol om te speel.

In landelike provinsies soos byvoorbeeld Limpopo staan sake egter heeltemal anders. In hierdie provinsies is die openbare hospitale en die sorg wat hulle verskaf, oor die algemeen van uiters swak gehalte en is die handjievol privaat hospitale eilande van uitnemendheid wat uitgestrekte geografiese gebiede bedien. Die dienste wat in die openbare sektor en in die privaat sektor gelewer word, kan nie vergelyk word nie – al is dit presies wat die ondersoek na privaat gesondheidsorgdienste en die regering wil doen. Selfs Gauteng se openbare gesondheidsorgfasiliteite is oorlaai en gaan agteruit as gevolg van die toenemende vraag.

Kleiner rolspelers het voldoende geleentheid om hospitale en klinieke te begin bou en gehaltedienste te lewer, maar tog doen hulle dit nie op beduidende skaal nie. En intussen word groter hospitaalgroepe verhinder om uit te brei en die dienste te lewer wat mense nodig het. Ten minste het hulle hospitale en klinieke gebou waar niemand anders wou nie en mense behandel wat andersins na die vervallende staatshospitale sou moes gaan. As die regering nie sy plig versuim het om gehaltesorg vir die publiek te verskaf nie, sou daar geen behoefte aan mediese fondse en die privaat gesondheidsorgsektor gewees het nie. Iemand moes skaalbesparing skep en landwyd uitbrei, anders sou ons sonder gehaltegesondheidsorgdienste in Suid-Afrika gewees het.

As die regering regtig wil hê dat kleiner hospitaalkettings floreer, moet hy hulle uitlos en hierdie erg gereguleerde sektor dereguleer. Organisasies wat lank gelede klein begin het en suksesvol geword het deur in behoeftes te voorsien, werkgeleenthede te verskaf en wêreldklas standaarde te handhaaf, moet nie gestraf en verguis word nie.

Daar is verskeie belangrike sektore in die ekonomie waar ’n paar rolspelers oorheersend is. Waarom word net die gesondheidsorgsektor uitgesonder?

Het die stigters van Capitec oor monopolistiese gedrag deur Absa, Nedbank, Standard en FNB gekla toe hulle begin het met wat nou een van Suid-Afrika se gewildste en suksesvolste banke is? Dalk het hulle, maar hulle het nogtans voortgegaan om met die groot banke mee te ding deur onbenutte geleenthede aan te gryp en dinge anders te doen, en sedertdien het hulle die aard van die bankwese in ’n oënskynlik versadigde mark verander.

In laaste instansie is die verslag ’n poging om die instelling van Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), met al die gepaardgaande staatsinmenging in die gesondheidsorgsektor, te regverdig. Die ondersoek is ’n slinkse set om aan die staat meer mag te besorg terwyl groter ondernemings gedemoniseer word en in skaamte die aftog blaas voor onwaarhede, kognitiewe sydigheid en bekookte syfers. Die doel daarvan, ofskoon dit so gestel word, is beslis nie om “die klein outjies” te help om ’n vastrapplek in die privaat gesondheidsorgsektor te kry nie. NGV laat baie min ruimte vir privaat gesondheidsorgverskaffers, en kleiner rolspelers sal nie oorleef as die grotes nie kan nie. En hoe kan ’n staatsoorheerste gesondheidsorgsektor nie ’n monopolie wees nie?

Voorts is dit wat nie in ’n verslag staan nie, net so belangrik as dit wat wel daarin is. Wat nie in hierdie verslag gemeld word nie, is dat die openbare gesondheidsorgsektor ’n uiters veeleisende plek is en dat die NGV-loodsprojekte jammerlik misluk het. Die verslag bevat nie al die gevallestudies van mishandeling, swak diens en opsetlike nalatigheid deur personeel by hierdie instellings nie. Dit meld nie die gebrek aan verantwoordbaarheid by staatshospitale as gevolg van die greep van Cosatu-geaffilieerde vakbonde nie. Dat mense sterf of gestremd raak omdat bedrieërdokters (ja, daar is talle sulkes in die openbare gesondheidsorgsektor) hulle verkeerd behandel, word net deur die pers en die burgerlike samelewing onthul.

By die bekendstelling van die nuwe teenkorrupsieforum vir die gesondheidsektor is daar onthul dat die openbare gesondheidsektor jaarliks sowat R22 miljard deur bedrog en korrupsie verloor. Dit is ’n konserwatiewe syfer wat nie al die nalatigheid insluit nie. Dit is so dat tariewe in die privaat sektor opgeblaas word, maar hierdie situasie is baie skokkender en gevaarliker.

Die regering, die ANC, die SAKP en Cosatu moet eers voor hulle eie deur vee voordat hulle die privaat sektor uittrap en namens die publiek besluite probeer neem oor ’n belangrike aangeleentheid soos gesondheidsorg.

Dr. Eugene Brink is ’n strategiese adviseur vir Gemeenskapsake by AfriForum.

 

Soortgelyke plasings