|

Onderwys se begrotingskrisis skep meer vraagtekens by AfriForum oor Bela

Die begrotingsbesnoeiings wat deur die minister van Basiese Onderwys as ’n “nasionale krisis” beskryf word, laat net meer vrae by AfriForum oor die ondertekening van die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys 32 van 2024 (die Bela-wet) ontstaan. Volgens die departement is tussen R79- en R118-miljard nodig om koste tot en met 2028 te kan finansier. Besnoeiings om binne begroting te bly het reeds kommerwekkende gevolge soos die afskaling van onderwysposte, dat vakante poste nie gevul word nie en broodnodige infrastruktuur nie ontwikkel word nie.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, sal die Bela-wet ingrypende gevolge vir die onderwyssektor inhou. “’n Mens dink dadelik aan die verpligte instelling van graad R, wat groot uitdagings in terme van aanstellings en infrastruktuur by skole gaan skep, om nie eers van leermateriaal en ondersteuning aan leerders te praat nie. As die implementering hiervan uitgestel word, is die vraag natuurlik waarom die wet dan so dringend onderteken moes word.”

Bailey noem dat die twee omstrede artikels van die Bela-wet, waaroor daar in die volgende drie maande nog onderhandel sal word, misbruik kan word om skole te dwing om meer kinders in te neem. Verder kan Afrikaanse skole, wat reeds vol is, ook gedwing word om leerders te akkommodeer wat Engelse onderrig verlang, wat vernietigende gevolge vir gehalte onderrig oor die algemeen en meer spesifiek Afrikaanse skole, die taal en Afrikaanse gemeenskappe sal inhou.

“Swak onderwys is die vinnigste pad na ekonomiese rampspoed en ons kinders het reeds met té veel onderwys uitdagings te kampe. Bela se bepalings gaan die situasie eerder vererger as verbeter. AfriForum doen daarom weer ’n beroep op enigeen wat nog nie AfriForum se petisie teen die wet ondersteun het nie, om dit te onderteken. Elke ondertekenaar help AfriForum om ’n selfs nóg sterker onderhandelingsposisie te behaal. Die petisie is beskikbaar by www.stopbela.co.za.”

Soortgelyke plasings