|

Onderwysers soek antwoorde oor swak uitslae in besigheidstudies

Tientalle onderwysers het gister ’n vergadering van die Solidariteit Beweging se Skoleondersteuningsentrum (SOS) in Centurion bygewoon om antwoorde te probeer kry oor waarom hordes matrikulante van 2018 so swak in besigheidstudies gevaar het.

Die SOS het honderde klagtes van onderwysers van regoor die land gekry.

In baie gevalle verskil uitslae van die matriekeksamen drasties van leerlinge se jaarpunte en in sommige gevalle het skole se slaagsyfers vir die vak amper halveer sedert Junie verlede jaar.

“Daar is sedert 2014 ’n stelselmatige afname in die slaagsyfer en aantal onderskeidings in besigheidstudies tydens die matriek- eindeksamen. Onderwysers kry geen antwoorde vanaf die departement van basiese onderwys in dié verband nie en voel hul klagtes val op dowe ore,” sê Hugo Vermeulen, onderwyskenner verbonde aan die SOS. “Sommige leerders het selfs universiteitskeuring en beurse verbeur omdat hul toelatingspuntetelling (TP-telling) skielik te laag is, weens die swak uitslae in besigheidstudie-uitslae.”

Die SOS weet van ’n hoërskool in Mpumalanga waar die matriek-gemiddeld vir besigheidstudies sedert 2017 met 21 persentasiepunte gedaal het (van 48% tot 27%), sonder dat enige geldige rede daarvoor gevind kan word. ’n Hoërskool in Gauteng het nege keer meer druipelinge vir besigheidstudies in die eindeksamen (19), as in die rekordeksamen (2) gehad. Geen kandidate aan dié skool het onderskeidings vir besigheidstudies behaal nie, terwyl drie leerlinge onderskeidings tydens die rekordeksamen behaal het.

Onderwysers van so ver as Kroonstad, Louis Trichardt en Lichtenburg het die vergadering bygewoon.

Die SOS het ook reeds ’n formele klagte by die departement aanhangig gemaak en ’n vergadering met senior amptenare van die departement aangevra, ten einde hierdie klagtes te bespreek. Die vergadering tussen die SOS en departement sal eerskomende  Donderdag plaasvind. Tydens hierdie vergadering sal die SOS soveel moontlik inligting aan die departement verskaf en ’n petisie oorhandig, ten einde te eis dat ’n nasionale ondersoek na die uitslae in besigheidstudies gedoen word.

Onderwysers en skole wat klagtes het, word aangemoedig om die SOS se petisielys te onderteken deur die skakel https://skole.co.za/petisie/ te volg en die vorm in te vul.

Deur hierdie petisie te teken, gee onderwysers hul steun aan die SOS se veldtog om ’n nasionale ondersoek na die uitslae in besigheidstudies te eis.

“Die SOS eis ’n dringende en volledige hermerk en hersiening van alle provinsies se uitslae in besigheidstudies. Dit is noodsaaklik dat die departement erken as daar ’n fout was en die saak so spoedig moontlik regstel,” sê Melanie Buys, onderwyskenner aan die SOS.

Van die bekommernisse wat van die onderwysers uitgewys het, is dat antwoorde uit sekere handboeke nie in die eindeksamen aanvaar is nie.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement, het luidens mediaberigte gesê die departement vind dit vreemd dat die klagtes hoofsaaklik “van ’n sekere groep uit die samelewing kom”. Die departement sal nietemin die klagtes ondersoek en terugvoering gee.

AfriForum verwelkom ook die SOS se versoek vir ’n nasionale ondersoek na die swak uitslae. “AfriForum  ondersteun die SOS wat oplossings soek vir die probleem wat nie net skole en vakonderwysers raak nie, maar ook voornemende studente wat vanjaar wil studeer,” sê Carien Bloem, onderwyskoördineerder by AfriForum.

Bloem sê onderwysers se klagtes kom ondanks talle ekstra klasse wat deur die jaar en in die vakansietyd vir leerlinge aangebied is.

Soortgelyke plasings