|

Onderwyskenners kap Mandaryns vir skole

Die minister van basiese onderwys se plan om Mandaryns vanaf volgende jaar as nie-amptelike en opsionele taal in openbare skole in te voer, is “absurd” en “waansinnig”.

Só meen onderwyskundiges met wie Forum Nuus gepraat het.

Angie Motshekga wil Mandaryns vanaf volgende jaar in gr. 4 – gr. 10 uitrol, terwyl gr. 11 in 2017 en gr. 12 in 2018 aan die beurt sal kom. Mandaryns is saam met ander tale soos Duits, Italiaans, Latyn, Portugees, Hindi, Tamil, Telegu en Urda as opsionele addisionele tale goedgekeur.

’n Omsendbrief in dié verband is reeds aan provinsiale amptenare gestuur.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van basiese onderwys, het luidens mediaberigte gesê ’n groep Suid-Afrikaanse onderwysers is tans in China om in Mandaryns opgelei te word.

Prof. Elda de Waal, onderwyskundige verbonde aan die Vaaldriehoek-kampus van die Noordwes-Universiteit, het gesê die plan gaan haar verstand te bowe. “Hoe kan so ’n besluit geneem word as ons leerlinge tans nie eens ’n billike kans kry om Engels onder die knie te kry nie?

“Leerlinge se begrip, kennis en uitspraak van Engels, wat in die meeste skole die onderrigmedium is, is pateties.”

Volgens De Waal is dit duidelik dat die meerderheid onderwysers self nie oor genoeg vaardighede beskik om kinders te help om Engels aan te leer nie.

“En hoe gaan Mandaryns ons in die land help? Jy kan na enige Chinese winkel gaan en jy sal hoor die mense praat met mekaar in Engels en nié Mandaryns nie.”

De Waal meen die onderwysdepartement ly aan “volstruissindroom”. “Daar is soveel probleme in die onderwysstelsel, maar hulle verkies om kop in die sand te druk en te hoop die probleme verdwyn.”

De Waal meen ’n nasionale onderwysindaba is nodig waar Motshekga kenners en kundiges byeen moet kry wat haar kan help om oplossings vir die krisis te kry. “Die gedagte dat ons Mandaryns gaan invoer en nie een oomblik dink wat in die beste belang van ons land se kinders is nie, maak my baie senuweeagtig.”

Lucas Viljoen, afgetrede skoolhoof van Johannesburg, meen Mandaryns as skoolvak is “waansinnig”.

“Suid-Afrikaanse kinders kan nie eens Engels baasraak wat vir baie van hulle hul tweede taal is nie. Ons is in ’n land waar ons klaar sukkel om mekaar te verstaan en te leer ken. En wat van al die sprekers van die ander inheemse tale? Is dit nie belangriker dat ons eerder Zoeloe en Xhosa bevorder nie?”

Viljoen meen behalwe dat dit nie opvoedkundig sin maak om leerlinge Mandaryns te leer nie, laat dit ernstige vrae ontstaan oor die regering se verbintenis en bande met China.

Motshekga het verlede jaar gesê die departement wil graag uit kerngebiede van die Chinese onderwysstelsel leer om onderwysuitkomste in Suid-Afrika te verbeter.

Dié gebiede is kurrikulum­ontwikkeling en -toepassing, wiskunde-, wetenskap- en tegnologie-onderrig, onderwyseropleiding en -ontwikkeling, beroeps-gerigte onderwys en opleiding en navorsing om basiese onderwys te verbeter.

Sy het toe gesê aangesien China Suid-Afrika se grootste handelsvennoot is, is dit belangrik dat leerlinge bedrewe raak in die taal en ’n goeie begrip van die Chinese kultuur kry.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, meen daar is nie ’n probleem met die aanbied van Mandaryns nie solank dit ’n opsionele vak is.

Die burgerregte-organisasie het wel vrae oor hoe prakties uitvoerbaar die plan is. Waar die onderwysers vandaan gaan kom en of hulle voldoende genoeg opgelei sal wees. Nog ’n vraag is of Mandaryns op dieselfde vlak as ander opsionele tale behandel sal word.

Soortgelyke plasings