“One Settler, One Bullet” – AfriForum Jeug lê klag

One Settle One Bullet t-hemp gedra op UP-kampus.

AfriForum Jeug het op 23 Mei ’n klag by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie ingedien teen studente van die Universiteit van Pretoria (UP) wat op kampus rondgeloop het met hemde waarop “One Settler, One Bullet” gedruk is.

“Dit is niks minder as haatspraak nie en is gevolglik aanhitsing tot geweld,” sê Julius Landman, AfriForum Jeug se Tuks-koördineerder. “Die erns van die saak het klaarblyklik geen gewig by die instansie gedra nie aangesien geen aksie tot dusver geneem is nie.”

“Talle UP-studente het nie meer ’n gevoel van veiligheid nie omdat hul basiese menseregte nie beskerm word nie. Hoe kan daar van studente verwag word om op hulle studies te fokus as hulle openlik aan sulke dreigemente blootgestel word?” vra Renier Goosen, AfriForum Jeug se Tuks-voorsitter.
’n Studenteleier het boonop tydens die konstitusiemassavergadering op 18 Mei 2017 “One Settler” tydens sy spreekbeurt uitgeroep, waarop sy ondersteuners “One Bullet” teruggeroep het. “Openlike haatspraak op kampus is tot dusver met geen nagevolge begroet nie en die gevolg hiervan is duidelik dat studente al hoe meer radikaal raak,” meen Landman.

AfriForum Jeug eis dat ’n volledige ondersoek gedoen moet word en studente wat hulself aan haatspraak skuldig maak, aangespreek moet word om toekomstige skade te voorkom. Die organisasie is van mening dat ’n opvoedkundige ruimte veilig moet wees sodat alle studente die geleentheid gegun word om tot die beste van hul vermoë te kan presteer.

Soortgelyke plasings