|

Onluste broei reeds by kampusse oor 2018-studiegelde

Terwyl universiteite in spanning wag vir die bekendmaking van die bevindinge gemaak deur regter Jonathan Herer se kommissie van ondersoek oor die finansiering van gratis hoër onderwys in Suid-Afrika, broei daar reeds studente-onluste op universiteitskampusse landwyd.

Regter Herer se kommissie is reeds in Januarie 2016 saamgestel om die haalbaarheid van gratis tersiêre onderrig te ondersoek. Luidens mediaberigte is die kommissie se finale verslag reeds in Augustus vanjaar (byna ’n jaar na die aanvanklike sperdatum) aan pres. Jacob Zuma oorhandig, maar daar is tans geen aanduiding van wanneer dié verslag bekend gemaak gaan word nie.

Intussen is daar egter glo onderlinge gesprekke tussen studenteleiers en universiteitsbesture by verskeie universiteite, insluitend die Universiteit van Stellenbosch (US), die Universiteit van die Vrystaat (UVS) en die Noordwes-Universiteit (NWU) gehou oor die onderskeie kampusse se moontlike klasgeldverhogings.

Betogers van die #FeesMustFall-beweging het gister klasse en eksamens op die Qwaqwa en Bloemfontein-kampusse van die Universiteit van die Vrystaat (UVS) ontwrig ná gerugte oor ’n moontlike verhoging van 8% in klasgelde vir 2018. Luidens ’n mediaverklaring wat gister deur die UVS uitgereik is, is daar wel nog geen finale besluite geneem oor 2018 se klasgelde nie.

Die US het op 11 Oktober vanjaar in ’n mediaverklaring aangekondig dat daar ’n algehele verhoging van 8% vir klasgelde sal wees vir huidige voor-en nagraadse studente. Luidens dié verklaring sal verblyfkostes met 9,2% verhoog word en kospryse in koshuise ook met 8% verhoog word. Geen onluste het is sedert dié aankondiging op die US aangemeld nie.

Die Hoëronderwys-transformasienetwerk (HETN) het Dinsdag tydens ’n mediakonferensie die regering sterk aangemoedig om dringend die Herer-kommissie se verslag bekend te stel. Dr. Reginald Legoabe, voorsitter van die HETN, het universiteite ook gewaarsku om nie soos die US hul klasgelde vir 2018 aan te kondig voor die bekendmaking van dié verslag nie, in ‘n poging om studentebetogings te vermy.

Verskeie kenners en studente-organisasies sê studentebetogings is onvermydelik, ongeag die uitkoms van die Herer-kommissie se verslag en hul vermoed dat dit nie voor die einde van die jaar bekendgemaak sal word nie.

Universiteitshoofde waarsku ook al ’n geruime tyd dat verhogings wel nodig is vir universiteite om lewensvatbaar te bly. Ekonome waarsku ook dat pres. Zuma se 0%-bevel vir klasgeldverhoging onhaalbaar is en ’n negatiewe impak op ander staatsdienste kan hê.

Verskeie studente-verenigings dreig met betogings as die verslag nie binnekort bekendgemaak word nie. Yonke Twani van die studentevereniging Safetsa het vroeër aan Rapport gesê dat hul reg is om te betoog indien die regering hul langer aan ’n lyntjie hou.

*Studente word aangemoedig om enige gevalle van kampus-onluste by jeug@afriforum.co.za aan te meld.

Soortgelyke plasings