Onluste in Noordwes wys behoefte aan AfriForum-veiligheidsberaad  

 

AfriForum in samewerking met die Solidariteit Beweging hou op 6 Mei 2017 ’n nasionale veiligheidsberaad by Heartfelt Arena in Pretoria. Verskeie kenners in die gemeenskapsveiligheidsektor gaan gemeenskappe toespreek oor hoe hulle misdaad kan hokslaan.

“Die onlangse onluste en geweld in die Noordwes rondom Lichtenburg en Coligny wys dat daar wel ’n behoefte aan só ’n veiligheidsberaad is. Daar moet ’n goue balans tussen die staat, die gemeenskap en die privaat sektor se rolle in hierdie verband wees. Ons het geen ander alternatief as om ’n gesamentlike nasionale veiligheidstrategie te ontwikkel nie; meer as 18 000 mense word per jaar in Suid-Afrika vermoor,” sê Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

Die volgende sprekers gaan by die beraad toesprake lewer:

  • Dr Johan Burger van die Instituut vir Sekerheidstudies
  • Minister Dan Plato, provinsiale minister van gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap
  • Mosiuoa Lekota, voormalige minister van verdediging en leier van COPE
  • Rudolph Zinn, kriminologie kenner by UNISA
  • Solly Msimanga, burgemeester van Tshwane
  • Ben Freeth, aktivis en boer van Zimbabwe
  • Yusuf Abramjee, sosiale- en teenmisdaadaktivis
  • maj. (afgetree) Roland de Vries, voormalige adjunkhoof van die Suid-Afrikaanse Weermag
  • Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging

’n Eksklusiewe video-onderhoud met genl.maj. Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, gaan ook by die beraad gewys word. Die onderhoud handel oor die belangrikheid van gemeenskapbetrokkenheid, die rol van verskillende eenhede in die polisie en korrupsie.
Die hooffokus van die beraad is om nasionale veiligheidsmeganismes tussen gemeenskappe, die staat en privaat sektor te bespreek ten einde misdaad te bekamp.
Die volgende kwessies gaan bespreek word: internasionale voorbeelde van gemeenskapaksies teen misdaad, sinergie tussen die gemeenskap en die staat, die rol van gemeenskapstrukture teen misdaad en die bekendstelling van AfriForum se Projek Nehemia-veiligheidstrategie.
Registreer by www.veiligheidsberaad.co.za om by te woon.

Soortgelyke plasings