|

Ons gaan en sal self besluit – Kallie Kriel

Ons gaan ons eie toekoms skep en ons gaan self besluit. Al gaan (pres.) Zuma ons dit nie wil laat doen nie, gaan ons nie sy toestemming vra nie.

Met dié boodskap het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, die meer as 430 kongresgangers by die organisasie se nasionale kongres in Warmbad aangemoedig om hoopvol te bly en by aksies betrokke te raak wat sal meebring dat hulle ’n vry, voorspoedige en veilige toekoms het.

Kriel het verwys na AfriForum wat volgende jaar 10 jaar oud is. “AfriForum kan op sy eie niks bereik nie. Ons is ’n instrument waardeur groter dinge en ideale bereik moet word. Ons takke en lede is die hart van die organisasie.”

Volgens Kriel kan die ANC nie met ons toekoms en kwessies soos onderwys vertrou word nie. Hy het verwys na die verval en aanslag op Afrikaans by universiteite soos Vrystaat, Stellenbosch, Pretoria en die Elsenburg-landboukollege. “Ons moet maar van die University of Johannesburg praat, want daar sal jy nie meer Afrikaans met ’n vergrootglas kry nie.”

Kriel het gesê Afrikaners is deel van die bestaande realiteit in die land en hulle kan hulle nie in staatsverval verlekker nie, omdat dit tot in hul huise kom. “Maar ons hoef dit nie net te aanvaar nie. Dit is nodig dat ons toenemend selfstandig sal raak en teen die agteruitgang moet bly veg. Dit is egter belangrik dat ons dit altyd binne die raamwerk van wedersydse erkenning en respek sal doen.

“Die ANC is eintlik besig om teen ons te regeer. Die grondwet is veronderstel om ons te beskerm en nie ons die grondwet nie. Daar is ernstige probleme en ons sal na onsself as minderhede moet kyk.

“Wat ons nou moet doen, is om moue op te rol en te begin werk om vir onsself en ons kinders ’n toekoms te skep. Ons voorgeslagte het dit gedoen. Ons kan dit ook weer regkry.”

 

 

Soortgelyke plasings