| |

Ons jeug gee hoop vir die toekoms

“Die hedendaagse jeug hou te veel van luukshede; het slegte maniere; toon nie agting vir gesag nie; disrespekteer ouer mense en gesels net heeltyd. Deesdae se kinders is tiranne, en lewer geen bydrae in hulle huishoudings nie. Hulle staan nie meer op wanneer ouer mense ’n vertrek binnekom nie. Hulle sal sommer hul ouers weerspreek, in die geselskap van ouer mense inmeng, lekkernye aan tafel voor ander wegraap, lelike houdings inslaan en hulle onderwysers boelie.”

Klink dit soos kritiek wat jy onlangs gehoor of gesê het?

Eintlik is dit my vrye vertaling van die woorde wat die Griekse filosoof Sokrates (470 v.C. tot 399 v.C.) al meer as tweeduisend jaar gelede kwytgeraak het.

Die afgelope tyd word ek net al meer bewus daarvan dat ouer mense altyd iets in die jeug sal vind wat hulle kan kritiseer – soms met goeie reg – maar dat daar ook jongmense is wat vir die ouer geslagte ’n voorbeeld en inspirasie is.

Op die oomblik is ons jaarlikse Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie vir universiteitstudente in volle swang. Elke week neem die spanne wat ingeskryf het, aanlyn teen mekaar deel, met die finaal wat op 2 April 2022 tussen die vier beste spanne in die AfriForum Teater gaan plaasvind.

Dit is heerlik om na die debatte te luister en te besef hoe goed hierdie groep jongmense oor aktuele sake ingelig is en hoe netjies hulle hul standpunte hieroor kan verwoord in keurige Afrikaans.

Dieselfde geld ook wanneer ons die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie vir skole aanbied (besonderhede vir 2022 is nog nie beskikbaar nie, maar ons sal hopelik eersdaags meer hieroor kan bekend maak).

Ook by AfriForum Jeug sien ons die projekte wat aangepak word – van museumterreine en historiese begraafplase wat skoongemaak word, tot aksies om bejaardes in tehuise op te beur of uilkaste op te rig om vir dié roofvoëls veilige tuistes te bied. Baie van hulle help verder graag met die aksies van buurtwagte en help sodoende om hulle geliefdes en bure veilig te hou. Daar is selfs ’n dogtertjie van vyf wat saans aan hulle buurtwaggroep se radioroep deelneem!

’n Groot deel van AfriForum se personeel bestaan uit mense jonger as 30, en ook by hulle sien ons sterk leierseienskappe en ’n gesonde verantwoordelikheidsin.

Aan die ander kant hoor ons ongelukkig soms van volwassenes wat nie jonger mense wil vertrou met verantwoordelikheid of toerus met kennis nie.

“My kind moet eerder nie by ’n buurtwag inskakel nie,” het ’n vrou vir my gesê ná ek gevra het hulle moet deel van ons buurtwag se radiogroep word. Daar was geen ander verwagting as dat die hoërskoolleerder net saans die tweerigtingradio in hulle huis moet beman nie. “Ek wil nie hê my kind moet weet van al die misdaad en rampe in die omgewing nie – dit gaan haar net angstig maak,” was die ma se verweer.

Helaas weet kinders maar al te goed van die misdaad en rampe in die buurt – hulle hoor dit by hulle maats by die skool en dan soms nog verdraaide weergawes ook as die maat die storie effens wil inkleur. ’n Kind sal veel veiliger voel as hy of sy bemagtig is met kennis oor moontlike veiligheidsrisiko’s en hoe om die verskillende situasies te hanteer.

Net so is daar ouers wat kla as ons aktuele temas vir debatte kies. “’n Kind hoef nie te weet van wêreldgebeure en die vuil politiek van vandag nie,” sê ’n ander ouer op ’n keer. Hulle vergeet dat baie onderhoude vir beurse en aanstellings deesdae ook vrae insluit om kinders se algemene kennis te toets. Kompetisie is streng en die kandidaat wat uiteindelik gekies word, moet iemand wees wat as’t ware pasklaar vir die geleentheid is, nie iemand wat nou eers hoor dat daar ’n oorlog in Oekraïne woed, of dat korrupsie etiese uitdagings in Suid-Afrika skep nie. Verder moet die kind eendag selfstandig ’n lewe bou en om dan eers van die wyer wêreld bewus te raak, gaan sake baie bemoeilik en die kind se veerkragtigheid belemmer.

Ons boodskap is dus dat die jeug, asook hulle ouers en onderwysers moet sorg dat hulle ingelig bly oor die sake van die dag en dat indien hulle by enige sinvolle aktiwiteit betrokke wil raak om aan hulle gemeenskap diens te lewer, hulle ondersteuning moet kry om dit te doen. Organisasies soos AfriForum skep graag sulke geleenthede en die plaaslike media is ook ’n goeie bron om te sien waar hulle kan inskakel.

Met ’n betrokke, ingeligte en goed toegeruste jeug, kan ons na die toekoms uitsien!

Soortgelyke plasings