|

#OnsDorp-veldtog: AfriForum dra by tot ’n groener toekoms

Die AfriForum-tak in Coligny het onlangs 10 Vanwykshoute en 20 bosveldkatjiepierings by G. R. Setsetse Primary School geplant as deel van dié organisasie se #OnsDorp-veldtog. Volgens Sampie Steinberg, AfriForum se assistentkoördineerder vir Marico, het AfriForum vanjaar reeds meer as 2 500 bome landwyd geplant.

“Deur inheemse bome te plant, bewaar ons nie net ons omgewing en maak dit ’n mooier plek om in te bly nie, maar ons wys ook dat ons hoop het vir die toekoms. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron – bome is simbolies van lewe,” sê Steinberg.

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n boomspesie wat algemeen voorkom as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2019 is die maroela (Sclerocarya birrea), terwyl die skaars boom die appelblaar (Philenoptera violacea) is. AfriForum moedig egter sy lede aan om inheemse bome te plant wat in hul omgewings aard.

“Elke boom wat ons plant, maak ’n blywende verskil in ons gemeenskap. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die AfriForum-tak in Coligny onderneem om dié sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop het vir die toekoms,” meen Steinberg.

Die tak moedig die gemeenskap aan om inheemse bome in hul dorp te plant en deel te wees van ’n groener toekoms.

Soortgelyke plasings