#OnsDorp-veldtog: AfriForum se Bethlehem-tak maak dorp skoon


Die AfriForum-tak in Bethlehem het op 27 September in samewerking met die Bethlehem Voortrekker Hoërskool die dorp se strate skoongemaak as deel van dié burgerregte-organisasie se #OnsDorp-veldtog wat amptelik in Oktober 2018 afgeskop het.

Dit is die derde opeenvolgende jaar dat die Bethlehem-tak en die skool hande vat tydens ’n projek en die doel daarmee is om ’n goeie gesindheid onder die jeug te skep.

“Bethlehem Voortrekker Hoërskool is ’n uitstekende voorbeeld van ons jeug se gewilligheid om aan gemeenskapsprojekte deel te neem en daarom wil ons hulle verder aanmoedig en bemagtig. Deur hulle van vroeg af reeds selfstandigheid te leer, skep ons ook hoop vir die jeug se toekoms,” sê Michelle Peens, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Hoogland.
Isolde Laesecke, voorsitter van die AfriForum-tak in Bethlehem, is besonder trots op die kinders se entoesiasme en vertel hoe van hulle selfs hul pa’s se braaitange ingespan het om die vullis op te tel. “Ons wil graag ook Python Sekuriteit bedank wat tydens hierdie aksie die kinders se veiligheid verseker het.”

Besoek www.onsdorp.co.za om aan AfriForum ’n mandaat te gee om ’n positiewe verskil in jou gemeenskap te maak of om self betrokke te raak.

Soortgelyke plasings