#OnsDorp-veldtog: AfriForum se Brakpan-tak hou massaskoonmaakprojek

Die AfriForum-tak in Brakpan het op 19 Oktober 2019 ’n suksesvolle massaskoonmaakprojek by die Tweedy Park-tehuis vir bejaardes aangepak. Dié aksie vorm deel van AfriForum se #OnsDorp-veldtog, wat daarop gemik is om probleme in dorpe self op te los. Die tak het binne asook buite rondom die tehuis skoongemaak.

Die gras is deur ’n plaaslike vrywillige kontrakteur gesny terwyl die taklede die vullis in die area opgetel het. Tak- en gemeenskapslede het hulp verleen om die sypaadjies reg rondom die tehuis op te ruim, watervore skoon te maak en bossies te verwyder. Vragte vullis is opgetel en met bakkies weggery.

“Die tak het werklik ’n verskil in die gemeenskap gemaak en ook gehelp om die werk vir ander te vergemaklik. Aksies soos hierdie dien as konkrete bewys dat gemeenskapstrukture hulself moet beywer vir ’n skoner, veiliger en volhoubare toekoms en dat hulle self betrokke moet raak om probleme in hul dorp proaktief aan te pak. Ons glo dit sal ander inwoners aanmoedig om ook betrokke te raak,” sê Gerhard Cilliers, voorsitter van AfriForum se Brakpan-tak.

Stuur gerus ’n e-pos aan brakpan.afriforum@gmail.com en gee aan AfriForum ’n mandaat om ’n positiewe verskil in jou gemeenskap te maak.

Soortgelyke plasings