|

#ONSDORP-VELDTOG: AFRIFORUM SE ZEERUST-TAK RIG SEKURITEITSKAMERAS OP

Die AfriForum-tak in Zeerust gaan sekuriteitskameras wat op 23 November 2020 in die dorp opgerig is, moniteer om die algemene veiligheid in die dorp te verbeter en die buurtwag se vermoëns verder te versterk. Die kameras stel die buurtwag in staat om dele van die dorp te moniteer en ook om verdagte voertuie deur middel van nommerplaatherkenning te identifiseer. Dit volg nadat lede van die gemeenskap en sakeondernemings hul kommer uitgespreek het oor veiligheid en aangebied het om saam met AfriForum te werk om die situasie te verbeter. Die totale koste vir die projek beloop ongeveer R160 000 en is deur ondernemings in die dorp geborg.

“AfriForum en sy lede dien gemeenskappe op verskeie maniere. Veiligheid is ’n belangrike komponent daarvan. Ons eer graag die manne en vroue wat hul tyd en hulpbronne hiervoor aanwend. Ons sien uit na verbeterde veiligheid in Zeerust danksy die kameraprojek” sê Joseph Renaud, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid vir die sentraalstreek.

“Ons wil graag die ondernemings en die gemeenskap bedank wat die fondse geskenk het vir die oprig van die kameras. Dit is merkwaardig om te sien hoe ’n gemeenskap kan saamstaan om misdaad hok te slaan. Ons is werklik dankbaar vir die reuseskenking wat deur die gemeenskap gemaak is,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

AfriForum wil graag ’n groter verskil in die gemeenskap maak en moedig inwoners aan om betrokke te raak. Word deel van die oplossing: SMS “Zeerust” na 45351 (R1).

Soortgelyke plasings