|

#OnsDorp-veldtog: AfriForum-tak in Reitz herstel watertoevoer na gemeenskapsportterrein

Die AfriForum-tak in Reitz het op 12 Oktober 2019 die watertoevoer by dié dorp se gemeenskapsportterrein se hek herstel. Besoekers aan die terrein merk eerste die verdroogde tuin op nadat ’n kraan met ’n stopper toegemaak is om watervermorsing te beperk.

Die tak het ’n nuwe watertoevoerpyp, nuwe krane en ’n eenvoudige besproeiingstelsel geïnstalleer om die tuin weer te laat floreer. Nie net sal die tuin weer met blomme kan pronk nie, maar die stelsel beperk ook watervermorsing danksy die besproeiingstelsel wat geïnstalleer is.

“Die helpers was baie gewillig en opgewonde oor die verwikkeling. Nie net gaan die sportterrein ’n meer kleurvolle ingang hê nie, maar dit vergemaklik ook die proses vir die terrein se opsigter,” sê Jean Hugo, voorsitter van AfriForum se Reitz-tak.

“Die tak het werklik ’n verskil in die gemeenskap gemaak en ook gehelp om die werk vir ander te vergemaklik. Die projek sal ander gemeenskapslede aanmoedig om meer betrokke te raak en self in te spring om die gemeenskap vir almal te verbeter,” sluit Jp Nel, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Hoogland, af.

Die tak beoog om binnekort die tuin te herrangskik en nuwe plante aan te plant.

Raak vandag nog by AfriForum se Reitz-tak betrokke en wees deel van die oplossing: Skakel 082 867 3050.

Soortgelyke plasings