|

Onteiening in kollig by Verenigde Nasies

AfriForum het vanjaar weer sy stryd teen die miskenning van minderheidsregte en onteiening sonder vergoeding voorgesit by die Verenigde Nasies in Genève, Switserland.

Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, het die burgerregte-organisasie se saak gestel by die Forum vir Menseregte, Demokrasie en die Regstaat, asook die Forum vir Minderheidsaangeleenthede om steun te werf teen die regering se voorgenome grondwetwysigings om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

Sowat 200 amptenare, burgerregte- en nieregeringsorganisasies van regoor die wêreld het vandeesweek tydens die sitting van die Forum vir Menseregte en Demokrasie oor die rol van parlemente as sleutelrolspelers wat bevordering van menseregte, demokrasie en die regstaat aanbetref, gepraat.

Michelle Bachelet, die VN se Hoë Kommissaris vir Menseregte, het tydens die sitting gesê dat demokrasie en ’n regstaat onmoontlik is as menseregte nie gerespekteer word nie. Sy het ook aangevoer dat daar te min vroue in parlemente wêreldwyd is.

Volgens Martin Chungong, voorsitter van dié Forum, is menseregte en demokrasie wêreldwyd onder meer druk en polarisasie neem oral toe. Hy het ook aangevoer dat sosiale media woede en paniek onder mense saai en dat dit beter bestuur moet word om die beste sy van die mensdom te weerspieël. “Demokrasie is nie ‘n foutlose stelsel nie, maar is steeds die beste wat ons het. In demokrasie is daar geen ruimte vir die tirannie van ‘n meerderheid nie, ook nie vir ‘n houding van ‘die wenner kry als’ nie.”

Hy is ook van mening dat parlemente vry, objektiewe media moet ondersteun, veral in verkiesingstye en dat die burgerlike gemeenskap se rol onontbeerlik is. “Die burgerlike gemeenskap moet ’n bydra tot hul samelewing kan maak sonder vrees vir vervolging.”

Norma Morandini, ’n Argentynse parlementslid en voormalige joernalis, het vertel van die voortdurende agterdogtigheid en spanning tussen parlementslede en joernaliste. Sy glo daar moet verby dit beweeg word en die partye moet mekaar moniteer en mekaar se onafhanklikheid bevorder.

Jamila Debbech Ksiksk, ’n lid van die Tunisiese Parlement, het gesê dat parlemente voorsiening vir al hul mense se insprake moet maak, veral kwesbare minderhede, terwyl Irene Khan van die International Development Law Organisation die noodsaaklikheid van die skeiding van magte en die regbank beklemtoon het.

Tydens die 11de sitting van die Forum vir Minderheidsaangeleenthede is die konsep van “staatlose minderhede”, ’n menseregte-saak wat volgens die VN minderhede regoor die wêreld buitengewoon fel raak, bespreek.

Volgens dr. Ferdinand de Varennes, die spesiale rapporteur oor minderheidsregte van die VN, behoort driekwart van die wêreld se staatlose mense aan minderheidsgroepe. “Sonder staatstatus is toegang tot basiese menseregte basies onmoontlik. Taal, ras en godsdiensoortuigings is alles gronde waarop teen minderhede gediskrimineer word en hulle staatloos word.”

Erge voorbeelde en gevolge van staatloosheid, insluitend slawerny, die afkeuring van burgerskap en die verdeeldheid van state, is tydens dié sitting bespreek.

Bailey het tydens haar spreekbeurt by dié forum beklemtoon dat AfriForum nie ’n verantwoordelike program van grondhervorming teenstaan nie. “Wanneer egter van die beginsel van gewillige verkoper, gewillige koper afgesien word, soos wat nou voorgestel word, kan dit net tot nadeel van alle inwoners van die land wees,” verduidelik sy.

“Minderhede in Suid-Afrika word tans die sondebok gemaak om die regering se onvermoë om grondhervorming behoorlik uit te voer, te verdoesel. In ’n amptelike verslag oor grondhervorming, uitgereik onder leiding van oudpresident Kgalema Motlanthe, word erken dat nóg wit grondeienaars, nóg die Grondwet die rede vir die staat se mislukte grondhervormingsprogram is – dit is onder meer deur korrupsie en die staat se onbevoegdheid teweeggebring. Tog dui verskeie uitsprake van senior regeringsverteenwoordigers aan dat die voorgestelde onteieningsproses wit grondeienaars sal teiken. Hulle loop dus die gevaar om ʼn staatlose minderheid te word,” sê Bailey.

“Hulle staar reeds groeiende druk teen hulle grondwetlik erkende kulturele regte, insluitend taal- en onderwysregte, in die gesig.”

Volgens Bailey is die risiko nie tot hierdie gemeenskap beperk nie. “Elders het soortgelyke ideologies-gedrewe onteieningsprojekte tot die dramatiese groei van die wêreld se staatlose bevolking aanleiding gegee, onder meer deur die skep van groot getalle politieke en ekonomiese vlugtelinge. Hulle was ook nie net tot een groep beperk nie – alle burgers van die betrokke lande is benadeel.”

Sy meen AfriForum is oortuig daarvan dat alle Suid-Afrikaners ’n duister toekoms tegemoet gaan indien die proses van onteiening sonder vergoeding deurgevoer word. “Dit is die verantwoordelikheid van die burgerlike samelewing om alles moontlik te doen om te verhoed dat Suid-Afrika dieselfde rampspoed as lande soos Zimbabwe en Venezuela beleef.”

Soortgelyke plasings