Onteiening van Akkerland Boerdery: SA-regering misbruik grondhervorming as dekmantel om minerale te bekom en Chinese uitbreiding in SA te fasiliteer


Die Suid-Afrikaanse burgerregte-organisasie AfriForum, Akkerland Boerdery, die landbou organisasie TLU SA, die vakbond Solidariteit en Agri Limpopo het vandag tydens ’n gesamentlike mediakonferensie in Pretoria aangevoer dat die Suid-Afrikaanse regering se huidige pogings om twee plase, Lukin en Salaita, van Akkerland Boerdery teen 10% van die markwaarde te onteien, grondhervorming as dekmantel misbruik om die werklike motiewe agter die onteiening te verdoesel: Dat die regering sy hande op steenkoolreserwes onder die grondoppervlak van dié plase wil lê om sodoende die uitbreiding van die Chinese regering se ekonomiese belange in Suid-Afrika te fasiliteer.
Die organisasies het daarop gewys dat Chinese staatsbeheerde maatskappye tans ontwikkeling ter waarde van $10 miljard beplan in die Musina-Makhado- spesiale ekonomiese sone (SES), waarbinne Akkerland val. Eksplorasie wat die omstrede Coal of Africa op Akkerland gedoen het, dui daarop dat die plaas se steenkool geskik is vir gebruik in sowel kragstasies as staalfabrieke.
Volgens Akkerland, AfriForum, TLU SA, Solidariteit en Agri Limpopo benodig die regering die steenkoolresewes op die plase, omdat die Chinese ontwikkeling onder meer die oprigting van ’n steenkoolaangedrewe kragstasie, ’n steenkoolaanleg en verskeie metallurgiese aanlegte insluit. Meer inligting is beskikbaar by:
South Africa Energy Metallurgy Economic Zone
Chinese investors plan $10bn metallurgical complex in South Africa
South Africa Energy Metallurgical Industrial Zone Brief Introduction
AfriForum, TLU SA en Solidariteit  het ook aangekondig dat hulle in belang van die beskerming van eiendomsreg Akkerland Boerdery se regsaksie teen die regering se onteieningspogings finansieel sal ondersteun en ook bystand sal verleen om die onreg wat teen Akkerland gepleeg word sowel plaaslik as internasionaal te ontbloot. Dié organisasies het ook ’n beroep op die publiek gedoen om finansieel tot Akkerland se regstryd by te dra en het reeds ’n afsonderlike bankrekening genaamd Akkerland Regsfonds geopen wat deur TLU SA se ouditeurs geadministreer sal word (rekeningno. 9343268401, ABSA-tak 632005). Die organisasies gaan die bankbesonderhede ook op hulle onderskeie webblaaie publiseer.
Johan Steenkamp, mede-eienaar van Akkerland Boerdery, het daarop gewys dat Maite Nkoana-Mashabane, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, op 29 Maart vanjaar ’n uitsettingsbrief, wat die eienaars sewe dae gegee het om die plase te ontruim, op Akkerland Boerdery laat bedien het.

“Die minister sou geweet het dat 30 Maart tot 2 Mei ’n langnaweek was en ek glo sy wou dit vir ons moeilik maak om betyds regstappe te neem. Dit strook met die minister se openbare uitspraak dat sy nie wil hê boere wat vir onteiening geteiken word, dit vooraf moet weet nie, om te verhoed dat hulle vooraf op regsaksie kan voorberei,” het Steenkamp gesê.

Volgens Steenkamp kon hulle egter betyds regstappe neem om die uitsettingsbrief tydelik op te hef. Akkerland maak homself gereed vir ’n uitgerekte hofstryd teen die ongegronde grondeis en die regering se onteieningpogings.

“Ons veg vir eiendomsreg, want die feit dat die regering slegs 10% van die markwaarde vir Akkerland Boerdery se plase wil betaal, beteken in effek dat die regering reeds besig is om 90% van ons eiendom sonder vergoeding te onteien,” voeg Steenkamp by.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, verskyn Akkerland Boerdery se twee plase eerste op die regering se geheime onteieningslys getiteld Proposed expropriation test cases, wat tans intern in die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming  gesirkuleer word en onlangs deur AfriForum openbaar gemaak is.

“Ten spyte daarvan dat die regering tot onlangs toe nog heftig die bestaan van dié lys ontken het, word die korrektheid van die lys bevestig omdat die regering reeds begin het om Akkerland se plase teen aansienlik minder as markwaarde te onteien,” voeg Kriel by.

Volgens Louis Meintjes, president van TLU SA, is die onteiening van Akkerland se plase teen ’n fraksie van die markwaarde daarvan ’n aanduiding dat die ANC se verklaarde beleid van onteiening sonder vergoeding besig is om beslag te kry.

“Die beginsel is dat dit onaanvaarbaar is dat die staat sy burgers se bates kan onteien sonder om daarvoor te betaal of net gedeeltelik wil betaal. Onteiening teen minder as markwaarde onder die dekmantel van grondhervorming en herverdeling van grond is die voorland van Johan Steenkamp se Akkerland-plase as ons nie nou saamstaan en hom help nie. TLU SA doen ’n beroep op sowel boere as alle ander titelhouers van eiendom om te verenig en Johan te help om die diefstal van sy eiendom waarvoor hy oor die jare hard gewerk het, te keer. Ons pleit by elke Suid-Afrikaner wat die toekoms van hierdie land op die hart dra om die organisasies te ondersteun sodat ons Johan kan help om sy plase van ANC-korrupsie te red,” sê Meintjes.

Leon Borcherds, president van Agri Limpopo, sê die beginsels waaroor die hof in die Akkerland-saak moet beslis, sal ’n deurslaggewende impak hê op hoe grondeienaars in die toekoms vir onteiening vergoed gaan word. Dit is veral die wye, ongereguleerde diskresie van die waardeerder-generaal – wat die grondwetlik toegelate aftrekkings van markwaarde moet kwantifiseer om by “billike en regverdige” vergoeding uit te kom – wat in die hof getoets moet word. Agri Limpopo volstaan daarby dat daar nie in ’n demokrasie van ’n individuele grondeienaar verwag kan word om die rekening vir ’n nasionale verantwoordelikheid soos grondhervorming te betaal nie. Alhoewel markverwante vergoeding nie in die Grondwet gewaarborg word nie, word dit ook nie verbied nie, en bly dit die enigste manier om grondhervorming te versnel sonder om beleggings, landboufinansiering en welwillendheid te skaad. Die hoëvlak- Mothlante-verslag oor grondhervorming het reeds uitgewys dat dit die korrupsie en onvermoë in die staat is – en nie die vrywillige verkoper-beginsel nie – wat grondhervorming laat misluk. Agri Limpopo stel voor dat die minister ’n openbare privaat vennootskap in ’n spesiale oorsigagentskap verpak om te verseker dat die grondhervormingsproses van korrupsie, selfverryking en nepotisme gesuiwer word.
Volgens Marius Croucamp, Solidariteit se adjunkhoofsekretaris verantwoordelik vir die metaal- en ingenieursbedryf, gaan die staalprodukte wat deur Chinese aanlegte in die Musina-SES vervaardig word direk met die produkte kompeteer wat die plaaslike sukkelende bedryf vervaardig.

“Die staalmark in Suid-Afrika en druk op die internasionale staalmark het tot gevolg dat die marges waarop plaaslike staalmaatskappye bedryf word só marginaal is dat enige verder kompetisie in die mark plaaslike maatskappye sal dwing om te sluit. Die gevolg is dat duisende Suid-Afrikaanse werkers hul werk gaan verloor. Die plaaslike maatskappye wat moontlik geraak sal word, sluit Columbus Stainless in Middelburg en Samancor, South 32 in. Die gevolge hiervan kan die gemeenskappe wat om dié fabrieksdorpe gevestig is ook in duie laat stort en duisende mense sonder lewensmiddele laat. Solidariteit is ook nie bewus van enige studie wat gedoen is om die impak van die Musina-SES op die huidige Suid-Afrikaanse staalbedryf te bepaal nie,” sê Croucamp.

Soortgelyke plasings