|

Ontevredenheid oor geld vir stamhoofde kring uit

Ontevredenheid oor buitensporige salarisse aan tradisionele leiers, waarvoor belastingbetalers geld moet opdok, het ’n verdere wending geneem met Agri SA wat Pravin Gordhan, minister van finansies, versoek het om dié miljoene rande eerder aan opkomende boere te gee.

Christo van der Rheede, adjunkdirekteur van Agri SA, het op die jaarkongres van Mpumalanga Landbou (ML) wat in Nelspruit gehou word, gesê hulle steun ML se siening dat die miljoene rande wat aan twee Ndebele-konings se huisopgraderings bestee word, geldmors is. Boonop het die tradisionele leiers van dié provinsie ook elk vyf jong koeie ter waarde van R12 miljoen ontvang.

ML meen David Mabuza, premier van Mpumalanga, wil deur hierdie skenkings politieke steun by tradisionele leiers in die provinsie wen. Volgens ML en Agri SA kan die geld beter bestee word deur eerder opkomende kommersiële boere te help.

Dié tradisionele leiers in Mpumalanga spog ook met nuwe luukse ampsmotors ter waarde van R30 miljoen.

AfriForum ondersoek ook tans die buitensporige wanbesteding van belastingbetalers se geld op salarisse van tradisionele leiers in Limpopo. Die burgerregte-organisasie gaan ’n PAIA-aansoek indien teen die departement van koöperatiewe regerings, menslike nedersettings en tradisionele sake (Coghsta), om toegang tot inligting te verkry rakende ʼn uitbetaling van R73 miljoen aan sowat 208 tradisionele leiers in dié provinsie.

Luidens dokumente wat in AfriForum se besit is, eis tradisionele leiers van die provinsie salarisse van dié departement sedert 2010.

Die dokumente dui aan dat Coghsta deur die staatsprokureur in Limpopo geadviseer is om wel die individuele salarisse van sowat R350 000 elk aan die leiers toe te staan, ondanks ’n Noord-Gautengse hooggeregshofbevel in Oktober verlede jaar wat gelas het dat salarisse van tradisionele leiers nié Coghsta se verantwoordelikheid is nie.

ʼn Politieke ontleder het aan Forum Nuus gesê oordrewe salarisbetalings aan stamhoofde en tradisionele leiers kan moontlik dui op pogings van die ANC-regering om politieke steun in landelike gebiede te werf.

 

 

 

Soortgelyke plasings