|

Ontsteltenis oor afbreek van geskiedkundige muur in Pretoria

 

ʼn Onlangse herrie het losgebars oor die geskiedkundige muur om die Indiese hoë kommissariaat op die hoek van Francis Baard- en Eastwoodstraat in Pretoria, wat vandeesweek afgebreek is.

Luidens mediaberigte het Nico Makkink, die kontrakteur wat opdrag van die kommissariaat ontvang het om dié muur te restoureer, gesê dat die muur ʼn veiligheidsrisiko geword het vir voetgangers en werknemers van die kommissariaat omdat dit erg begin verbrokkel en byna omgeval het.

Volgens Makkink gaan hulle die pilare van die muur met beton versterk om dit stewiger te maak. Daar gaan gepoog word om sover moontlik elke baksteen wat nog heel is, weer te gebruik.

Hy moes die planne by die Gautengse Gedenkwaardigheidowerheid indien voordat die restourasiewerk verlede week goedgekeur is.

Daar word vermoed dat die muur rondom 1912 gebou is.

Verskeie erfenisbewaarders het hulle oor die restourasie uitgelaat.

Anton Jansen, voorsitter van die Tshwane-geboue-erfenisvereniging, het aan Forum Nuus gesê dat die muur volgens hom nie ʼn veiligheidsrisiko was nie. Hy het verduidelik dat ʼn indringerboom, wat agter die muur geplant is, se wortels die muur omgestoot het. Hy meen dit sou egter makliker en goedkoper gewees het om eerder die boom te verwyder.

“Hoe kan jy só argitektoniese muur toetentaal afbreek, die byna onvervangbare Kirkness-bakstene wegry en dan sê dat die voorkoms nie gaan verander nie? Dit gaan onmoontlik wees om weer presies dieselfde vakmanskap en boumateriale te kry,” het Jansen gesê.

Hy plaas ook groot vraagtekens rondom die tydperk waarin die permit vir restourasie goedgekeur is.

Volgens Jansen neem dit omtrent ses maande vir só permit om goedgekeur te word, terwyl die permit vir die restourering van die muur binne twee weke goedgekeur is.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat dit skreiend is dat politieke belange swaarder weeg as erfenisbelange.

“Die permit om die muur te sloop is skynbaar vinnig uitgereik, nes toestemming verleen is om die Rhodes-standbeeld by UCT te skuif. Maar as erfenisse wat bedreig word na veiliger plekke verskuif moet neem, neem dit letterlik jare vir toestemming.”

 

 

 

 

 

 

Soortgelyke plasings