Onttrekking aan internasionale strafhof vergroot verantwoordelikheid van burgerlike instellings, sê AfriForum


AfriForum beskou die Suid-Afrikaanse regering se volharding met die proses om van die internasionale strafhof te onttrek, as ’n terugwaartse stap op die terrein van menseregte. Gister het die geregtelike komitee van die Suid-Afrikaanse parlement die aanvaarding van ’n wetsontwerp bespreek waarvolgens die strafhof se oprigtingswet, die Statuut van Rome, amptelik uit die Suid-Afrikaanse wetboeke verwyder sal word. Dit sal Suid-Afrika se deelname aan dié hof beëindig.
Verder het dit pas bekend geraak dat Afrikaleiers tydens die huidige beraad van die Afrika Unie (AU) ’n strategie aanvaar het waarvolgens ’n beroep op alle lede van die AU gedoen word om gesamentlik van die internasionale strafhof te onttrek. Sedert die totstandkoming daarvan in 2002, is sake deur die hof ondersoek en/of aangepak wat met gebeure in verskeie Afrikalande, maar ook lande van ander kontinente, byvoorbeeld Georgië, Afghanistan; Colombia en Palestina te make het. Desnieteenstaande beweer Suid-Afrikaanse parlementslede en verteenwoordigers van ander AU-lidlande dat die hof spesifiek leiers in Afrika teiken. Die Suid-Afrikaanse owerhede se weiering om die omstrede menseregteskender, Soedannese president Omar al-Bashir, in 2015 tydens sy besoek aan die land in hegtenis te neem en aan die strafhof uit te lewer, het aanleiding tot die besluit oor Suid-Afrika se onttrekking gegee.
Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum gemoeid met internasionale betrekkinge, het die strafhof nog betreklik min sake afgehandel. Waar vonnisse wel gevel is, kan duidelik gesien word dat ʼn onskuldige leier – van watter kontinent ook al – min te vrees het.
Bailey meen die onttrekking aan die strafhof voorspel niks goeds vir die toekoms van menseregte in die land, of op die kontinent nie.

“’n Internasionale platform waar oortreders verantwoordbaar gehou kon word, gaan hiermee verlore. Dit beteken dat die verpligting wat op die skouers van burgerregte organisasies rus, soveel groter word.Hulle sal nou meer as ooit teen vergrype moet standpunt inneem, die stem van slagoffers hoorbaar maak en alle moontlik opsies aangryp om oortreders tot rekenskap te roep. Dit is dan ook die rol waarmee AfriForum ons op die nasionale en internasionale terrein besighou.”

Soortgelyke plasings