|

Oom Dries skryf 70 jaar gelede só oor Van Riebeeck-fees

Vandag (6 April) herdenk baie mense Van Riebeeckdag 370 jaar gelede.

Min mense het soos dr. AJ van der Merwe (Oom Dries)  nog jeugherinneringe aan hoe hierdie besonderse gebeurtenis in die verlede gevier is.

As 15-jarige seun het hy in 1952 in The Cape Mercury ’n artikel geskryf het oor sy belewenis van die Van Riebeeck-jeugparade en –fees wat daardie jaar in Kaapstad gehou is.

Oom Dries, ’n vurige ondersteuner en lid van AfriForum, het vandeesweek ’n afskrif van die artikel wat hy al die jare gehou het, na AfriForum se hoofkantoor gebring.

Hy onthou dat hy die voorreg gehad het om as jong seun aan die De Vos Malan School sy dorp King William’s Town by die “Blom van die Jeug”-optog in Kaapstad kon verteenwoordig. Dit was sy eerste besoek aan Kaapstad en wat hom ook bybly is dat die artikel nogal in Afrikaans in The Cape Mercury verskyn het.

In die artikel skryf die jonge Andries hoe ’n groot voorreg dit vir hom was om die Van Riebeeck-fees by te woon en sy dorp te verteenwoordig. “Dit was ook ’n leersame ondervinding om langs die Tuinroete daarheen te reis en die eerste maal die Moederstad te besoek.”

Hy skryf: “Die fees was vir my wonderlik en van so wye omvang dat dit onmoontlik was om alles te sien. ’n Mens moes dit gesien het om dit te waardeer!”

Hy skryf oor die mooi toneel met die aankoms van sewe poskoetse en die eggenotes van kabinetsministers en ander hooggeplaastes wat in deftige 17de eeuse kleredrag geklee was. Die grasperk van die stadion was met sierlike potplante uitgelê in die vorm van die Kasteel.

Vir hom was die fakkelloop, waaraan 3 000 Voortrekkers vanuit alle dele van die Unie in die aand deelgeneem het, ook skouspelagtig. Die wyse waarop die jeug die Vlam van die Beskawing in ’n Voortrekkerwawiel uitgebeeld het, is iets wat hy ook nooit vergeet het nie.

Oom Dries skryf voorts dat die historiese Optog van die Verlede, wat uit 134 eenhede van orkeste en sierwaens bestaan het, baie leersaam en oorspronklik was. “Dit het vir my ’n mooi samehangende beeld gegee van die uitstaande gebeurtenisse in die geskiedenis van Suid-Afrika soos dit gewortel was in die stamlande en (destyds) oor die afgelope 300 jaar op eie bodem ontplooi het.

Daar was ook ’n Optog van die Hede wat ekonomiese ontwikkeling uitgebeeld het en uit 43 sierwaens bestaan het en hom “met trots vervul het”.

Hy onthou ook die “Ons Bou ’n Nasie”-sierwa wat uit reuse gipsperde bestaan het, met die skilde van die vier provinsies en van Suid-Wes daarop, en waarop ’n seun en dogter die leisels en die Unievlag gehou het. “Dit moes geloof en kraginspanning verkondig waarmee die jong Suid-Afrikaanse volk die toekoms tegemoet sou gaan.”

Oom Dries onthou ook ligtere items soos die verskillende volksdanse van die verskillende stamlande en die Suid-Afrikaans volkspele waaraan nie minder as 3 000 spelers deelgeneem het nie. Ter afsluiting het al die Volkspelers aan ’n tablo deelgeneem wat die hele Unie met sy grense, provinsies en provinsiale hoofstede voorgestel het asook die datums van 1652 en 1952.

Oom Dries skryf dit was onmoontlik om al die verrigtinge te kon bywoon en hy sou ook graag die landing van die Dromedaris en die hoeksteenlegging van Die Poort na Afrika wou bywoon.

Hy skryf ook hoe opvallend van die uitstallings op die feesskou was en van ’n landskap met klein elektries-aangedrewe treintjies, brûe, stasies, tonnels, riviere, damme en bergpasse wat hom laat voel het of hy in droomland is.

Aan die einde skryf hy: “Tafelberg het seker ook nie gedroom dat daar na 300 jaar só ’n gewoel en gewerskaf aan sy voet sou plaasvind nie.”

Oor die fees skryf hy dat hy “die verruiming van gees en die verryking aan kennis en ondervinding nie vir die geld van die wêreld sou verruil nie én nooit weer so ’n Fees sou belewe nie”. Oom Dries het aangedui dat hy en sy vrou, tannie Rina, saam met wie hy al 55 jaar ’n pad stap, ook vandag, soos derduisende ander weer Van Riebeeckdag in herinnering roep.

Soortgelyke plasings