|

Oorlogsmuseum in Rosestad wil OG hof toe sleep

Deur Anna-Marie Prinsloo

Meer doeltreffende en uitvoerbare beleide moet opgestel word waar dit by die waardasie van die land se erfenisbates kom.

Só meen die burgerregte-waghond AfriForum nadat die ouditeur-generaal (OG) die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein ’n gekwalifiseerde oudit gegee het.

Die OG het bevind die museum se finansiële state is nie volgens die voorskrifte van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur voorberei nie.

Die museum verwerp egter die OG se gevolgtrekkings in die jaarlikse finansiële state in sy 2015/16 jaarverslag en is van voorneme om die saak vir hersiening na die hooggeregshof te neem om die gekwalifiseerde oudit tersyde te stel.

Luidens mediaberigte meen die museum dat hy ingevolge ’n kennisgewing in die Staatskoerant daarvan kwytgeskeld is om erfenisbates te meet vir die doel van sy finansiële state omdat dié entiteite deel vorm van die departement van kuns en kultuur.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, is dit moeilik om alle geskiedkundige items regverdig te waardeer omdat hul finansiële waarde nie altyd akkuraat geverifieer kan word nie. “Anders as skilderye in kunsmuseums is iets soos die hoed wat Piet Retief gedra het baie moeilik om te waardeer omdat dit  ʼn voorbeeld is van iets wat baie geskiedkundige waarde, maar nie noodwendig finansiële waarde het nie.”

Cecilia Kruger, hoofkunsbewaarder by die Voortrekkermonument, sê daar is reeds bestaande regulasies wat sekere museums het om die waarde van hul items te bepaal. “Dit is moeilik om sekere erfenisbates akkuraat te waardeer omdat kundiges soms emosionele waarde aan die items heg en dus ʼn subjektiewe besluit maak rakende die item se finansiële waarde.”

Sy sê voorts dat die Voortrekkermonument nie gebruik maak van ʼn waarderingsbeleid nie, maar wel versekering het op sekere items soos die monument se skilderye.

Sy stem saam met AfriForum se siening dat meer doeltreffende beleide en riglyne opgestel moet word om tred te hou van die finansiële waardes van die erfenisitems.

Soortgelyke plasings