|

Oorweldigende steun teen BELA-wet: AfriForum-petisie groei met meer as 100 000 in 24 uur

AfriForum se Stop BELA-petisie (www.stopbela.co.za) teen die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys 32 van 2024 het binne die afgelope 24 uur met meer as 100 000 handtekeninge gegroei en vroegoggend die 150 000-kerf verbygesteek. Daar word verwag dat die aantal ondertekenaars binnekort meer as 200 000 sal wees.

In ’n stadium was die verkeer na die webtuiste só druk, dat AfriForum Dinsdag-aand genoodsaak was om aanvullende kapasiteit vir sy internetbedieners in te span om die geweldige toestroming van ondersteuners te hanteer.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is dit duidelik dat die publiek baie ernstig gekant is teen die wet se aanslag teen Afrikaanse skole en kinders, en dus die Afrikaanse gemeenskap in geheel.

Nadat AfriForum en Solidariteit in gesprek met president Cyril Ramaphosa was, is ’n taktiese deurbraak reeds behaal toe Ramaphosa Vrydag (13 September 2024) tydens ondertekening van die wet, aangekondig het dat die gewraakte artikels 4 en 5 daarvan wat oor skole se toelatings- en taalbeleide gaan, nie dadelik geïmplementeer sal word nie. Dit sal naamlik vir ’n verdere drie maande vir gesprekvoering oopgestel word.

“Die president se kontak met AfriForum en Solidariteit, asook die geleentheid vir verdere bespreking van die twee artikels, dien as ’n bewys daarvan dat openbare druk sukses kán behaal,” sê Bailey.

“Elke ondertekenaar help AfriForum dus om ’n selfs nóg sterker onderhandelingsposisie te behaal. AfriForum doen daarom ’n beroep op almal wat nog nie die petisie ondersteun het nie, om ook hulle teenkanting teen die BELA-wet by www.stopbela.co.za te wys.

Soortgelyke plasings