| | |

Oorwinning: Munisipaliteit pleit skuldig op besoedelingsklagtes wat AfriForum gelê het

Themba Goba, die munisipale bestuurder van die Rand West City Plaaslike Munisipaliteit, wat tans geskors is, het vandag as die verteenwoordiger van die munisipaliteit in terme van ’n pleitooreenkoms skuldig gepleit op klagtes van besoedeling in terme van die Nasionale Omgewingswet. Dit volg nadat Matiam van Vuuren, AfriForum se voorsitter van die Randfontein-tak, in 2016 strafregtelike klagtes in terme van hierdie wetgewing vir rioolbesoedeling teen Goba in sy amptelike hoedanigheid gelê het. Landdros Vivian Hawkins het die pleitooreenkoms in die Randfontein-streekhof bekragtig.

Die vonnis behels ’n boete van R10 miljoen waarvan R7 miljoen opgeskort is vir vyf jaar, mits die munisipaliteit aan sekere voorwaardes in terme van die pleitooreenkoms voldoen. Die Departement van Water en Sanitasie het ook toegetree en hul eie ondersoek ingestel waar daar ook direktiewe uitgereik is teen dié munisipaliteit.

“AfriForum veg hierdie geveg reeds onverpoosd sedert 2016 en vandag se uitspraak is vir ons as die Randfontein-tak, asook vir die gemeenskap, ’n reuse-oorwinning. Ons is vol vertroue dat hierdie sukses deure sal oopmaak vir ander gemeenskappe om ook hul munisipaliteite strafregtelik verantwoordbaar te hou vir besoedeling as gevolg van gebrekkige rioolwerke,” sê Van Vuuren.

Volgens Morné Mostert, bestuurder van plaaslikeregeringsake by AfriForum, moet hierdie oorwinning ook gesien word in die konteks van Senzo Mchunu, minister van Water en Sanitasie (DWS) se groendruppel-verslag wat die departement onlangs uitgereik het.

“Vandag se uitspraak is slegs ons eerste sukses met diesulke klagtes en ons sien dit as ’n goeie presedent, aangesien beide AfriForum en die regering se groendruppel-verslae toon dat slegs 22 van 850 (2,3%) rioolaanlegte aan die groendruppelstandaarde voldoen. Hierdie uitspraak en die proses wat gevolg is om dít te laat verwesenlik, vorm deel van ons strategie om munisipaliteite en meer spesifiek munisipale bestuurders tot verantwoording te roep om toe te sien dat daar nagevolge is vir die wanbestuur wat tans in baie munisipaliteite heers,” sê Mostert.

Die voorwaardes in hierdie ooreenkoms sluit die volgende in:

  • Dat die boetegeld van R3 miljoen aan herstelwerk gespandeer word;
  • Dat bewyse van hierdie herstelwerk aan die DWS gestuur word;
  • Die aanstel van gekwalifiseerde en ervare prosesbeheerders soos voorgeskryf deur regulasies;
  • Dat meulmakers en elektromeganiese tegnici aangestel word om behoorlike onderhoud van die werke te verseker;
  • Behoorlike monitering van die uitvloei om nakoming te verseker;
  • Dat daar behoorlike verslagdoening aan die DWS plaasvind;
  • Dat 10% van alle munisipale-infrastruktuurtoelae omhein word vir onderhoud aan die werke.

AfriForum sal voortgaan om die situasie te monitor en die waghondrol vervul om te verseker dat daar aan die grondwetlike beginsels van ’n skoon omgewing voldoen word en dat die skuldige partye verantwoordbaar gehou word.

Soortgelyke plasings