| |

Oorwinning vir AfriForum en Nkungumathe-gemeenskap vir skool in Nkandla


Die hoë hof in Pietermaritzburg het vandag in AfriForum en die Nkungumathe-gemeenskap in Nkandla se guns beslis om die KwaZulu-Natalse onderwysdepartement te dwing om vir hulle ’n skool te bou, soos wat reeds meer as ’n dekade tevore onderneem is. Hierdie saak duur al van 2016 af. Regter Rashid Vahed het ten gunste van die gemeenskap beslis en opdrag gegee dat die skool gebou moet word en dat die gemeenskap by die beplanning betrokke moet wees. Die saak is met koste gewen.

Volgens Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, is die uitspraak ’n reuse-oorwinning vir die gemeenskap en AfriForum is verheug daaroor.
Die burgerregteorganisasie het by die saak betrokke geraak nadat leiers van die Mpungose tradisionele raad en Nkungumathe-gemeenskap AfriForum om hulp genader het. AfriForum het reeds etlike Afrikaanse skole met regshulp bygestaan om gehaltemoedertaalonderrig in beskerming te neem en glo dat leerders in Nkandla se regte op dieselfde grondslag bevorder en beskerm moet word.

“Dit is ’n skande dat die staat bereid was om miljoene rande aan voormalige president Jacob Zuma se huis in Nkandla te spandeer, terwyl kinders in dieselfde distrik moet ly weens ’n gebrek aan toegang tot ’n skool. Hierdie onreg is iets waarteen AfriForum onbeskaamd sal veg,” sê Bailey.
Bailey noem dat Suid-Afrika een van die lande in die wêreld is wat die hoogste persentasie van die nasionale begroting aan onderwys toewys. “Onder hierdie omstandighede is dit tragies dat ’n lang hofstryd nodig was om aan hierdie kinders toegang tot ’n basiese grondwetlike reg, naamlik toeganklike onderwysgeriewe, te besorg. Helaas gebeur dit al meer dat kinders pionne in ideologiese speletjies word en só van ’n toekoms beroof word.”

AfriForum en die gemeenskap sal die uitvoering van die hofbevel fyn dophou om te verseker dat geregtigheid eindelik vir die leerders sal seëvier.

Soortgelyke plasings