| |

OOS-KAAP SE VULLISTERREINE IN HAGLIKE TOESTAND

AfriForum het vanjaar 153 vullisterreine landwyd geoudit as deel van dié organisasie se nasionale projek om die gehalte van vullisterreine in Suid-Afrika te meet.

Geen een van die sewe vullisterreine wat in Oos-Kaap geoudit is, het aan nasionale standaarde voldoen nie. Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis 59 van 2008, moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen.

Volgens Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid- en Oos-Kaap, is die meeste vullisterreine in die Oos-Kaap in ’n haglike toestand. “Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan ’n totale gebrek aan goeie bestuur sowel as grootskaalse kaderontplooiing wat veroorsaak het dat kundigheid verlore gegaan het.”

Greyling sê die algemeenste probleme wat AfriForum tydens die oudit aangetref het, is die afwesigheid van afvalbestuurslisensies en ’n algehele wanbestuur van terreine. Dit blyk verder dat daar eenvoudig geen respek vir die wetlike vereistes van sodanige vullisterreine is nie en dat die persone in beheer hulself hoofsaaklik as onaantasbaar en onverantwoordbaar beskou.

Munisipale verval is aan die orde van die dag en dit is ooglopend dat veral kleiner munisipaliteite onder grootskaalse wanbestuur gebuk gaan.

AfriForum het in die laaste twee jaar by verskeie geleenthede met Barbara Creecy, Minister van Omgewingsake, en haar span vergader. Ses terreine is geïdentifiseer wat die departement in samewerking met AfriForum gaan aanpak om dit weer op standaard te bring. AfriForum gaan ook daarop fokus om saam met munisipaliteite die probleme by sommige van die terreine in die provinsie aan te spreek en om druk toe te pas om sekere terreine weer reg te ruk. AfriForum sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat die vullisterreine se standaard genoegsaam verbeter.

  • Lees die volledige verslag hier.

Soortgelyke plasings