|

Oos-Kaap se vullisterreine ’n tragedie

AfriForum het vanjaar 162 vullisterreine landwyd geoudit as deel van dié organisasie se nasionale projek om die gehalte van vullisterreine in Suid-Afrika te meet.

Nie een van die ses vullisterreine wat in die Oos-Kaap geoudit is, het aan nasionale standaarde voldoen nie. Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis 59 van 2008, moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen.

Volgens David Olivier, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap, is die meeste vullisterreine in die Oos-Kaap in ’n haglike toestand. “Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan ’n gebrek aan die wil om aan die standaarde te voldoen, deur die munisipaliteite. Weens wanbestuur is daar ’n gebrek aan fondse om aan vullisterreine te spandeer. Dis ’n absolute skande dat ons natuur so besoedel word.”

Olivier sê die mees algemene probleme wat AfriForum tydens die oudit opgemerk het, is die afwesigheid van afvalbestuurslisensies en ’n algehele wanbestuur van terreine. ’n Groot deel van die probleem is dat onbevoegde mense aangestel word en dat die nodige kundigheid om die vullisterreine effektief te bestuur dan ontbreek.

Munisipale verval is aan die orde van die dag en dit is ooglopend dat veral kleiner munisipaliteite onder grootskaalse wanbestuur gebuk gaan.

AfriForum het in die laaste twee jaar by verskeie geleenthede met Barbara Creecy, minister van Bosbou, Visserye en Omgewingsake, en haar span vergader. Uit die vergaderings was dit duidelik dat daar onvoldoende kommunikasie bestaan tussen nasionale, provinsiale en plaaslike owerhede. Dit is ’n bewys daarvan dat samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) en die departement van Bosbou, Visserye en Omgewingsake nie met mekaar kommunikeer nie.

Soortgelyke plasings