Oos-Moot-buurtwag se eerste operasie ’n groot sukses


AfriForum se Oos-Moot-buurtwag, wat aan die Waverley-tak verbonde is, het op 14 April 2019 ’n sinkronisasie-operasie uitgevoer. Dit was dié buurtwag se eerste grootskaalse operasie bo en behalwe kleiner patrollies wat reeds gehou is.

“Die primêre doelwit was om sinkronisasie te oefen en dít is suksesvol bereik – ons kon stiptelik begin en stiptelik eindig. Dié operasie bied ’n geleentheid vir die bestuur van die buurtwag om lede te mobiliseer, riglyne uiteen te sit en almal ná uitvoering te deaktiveer. Ons is dankbaar vir die 26 mense wat aan die operasie deelgeneem het,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria.

Die sekondêre doelwit was om sigbaarheid teenoor asblikgrawers te skep, wat op Maandagaande hul intrek in Oos-Moot se woonbuurte neem. Die Oos-Moot-buurtwag se boodskap is suksesvol uitgestuur – dat hulle ’n duidelike teenwoordigheid in die gebied se strate handhaaf.

“Vier spanne was betrokke, waarvan elk uit een voertuig met twee patrolleerders, asook ongeveer vier voetpatrolleerders bestaan het. Die bakkies kon die patrolleerders vinnig oplaai en na die onderskeie beginpunte neem en weer binne vyf minute by die beginpunt aflaai vir terugvoer en deaktivering. Tydens die operasie kon die buurtwag ook al vier spanne se geoligging suksesvol aanlyn moniteer. Die operasie het vlot verloop en ek wil graag elkeen wat deelgeneem het hartlik bedank,” sê Andries Opperman, voorsitter van AfriForum se Oos-Moot-buurtwag.
“Ons is trots op die wyse waarop hierdie operasie uitgevoer is en ek glo dat dit die begin van groot dinge vir die buurtwag is,” sluit De Klerk af.

Gemeenskapslede kan op die volgende wyses by AfriForum betrokke raak: SMS “Oos-Moot” na 45341 (R1), óf stuur ’n e-pos na lambert.deklerk@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings