| | | |

Oos-Moot-tak en -buurtwag ontwikkel funksie op Telegram-toep om gemeenskap by te staan

AfriForum se Oos-Moot-tak en -buurtwag het met behulp van die maatskappy Sierra Script ʼn funksie bekend as AfriForum-Bot op die Telegram-toep ontwikkel om ondersteuning aan gemeenskappe tydens die inperking te bied.

Lede van die publiek kan dié toep op hul slimfone aflaai en die soekfunksie op Telegram gebruik om @AfriForumBuurtBot en @Covid19Buurt_Bot op te spoor. Persone wat van dié funskie gebruik wil maak, sal verpligte besonderhede moet insleutel, waarna dit moontlik sal wees om onder meer misdaad, noodgevalle en munisipale probleme aan te meld.

Misdaadverwanteprobleme en noodgevalle sal dadelik aan AfriForum se Oos-Moot-beheerkamer deurgestuur word. Dit sal ook as hulpmiddel tydens patrollies gebruik word.

Gebruikers moet egter kennis daarvan neem dat munisipale probleme éérs by die Tshwane-metro aangemeld kan word voordat dit by die Oos-Moot-tak aangemeld kan word.

Tak- en buurtwaglede sal die inligting wat hulle op die toep ontvang gebruik om met die nodige nooddienste, instansies en persone te skakel om spoedige oplossings vir dié probleme te vind.

“Die Oos-Moot-tak en -buurtwag bedank Sierra Script vir die gratis ontwikkeling van dié funksie. Hulle beskou dit as hul bydrae om te help om die gemeenskap weerbaar te maak. Hulle verdien ’n applous,” sê Andries Opperman, veiligheidsvoorsitter van die Oos-Moot-tak.

@AfriForumBuurtBot bied die volgende:

  • Magtiging om by die AfriForum-Oos-Moot groep aan te sluit en misdaad- en munisipale probleme aan te meld.

@Covid19Buurt_Bot:

  • Ontvang die nuutste COVID-19-statistiek.
  • Meld mediese noodgevalle aan wat aan nooddienste deurgegee word.
  • Rapporteer magsmisbruik.
  • Voorsien inligting oor COVID-19-toetssentrums.

PatrollieBot (Hierdie is slegs vir patrolleerders van AfriForum se Oos-Moot-buurtwag):

  • Stel die beheerkamer en ander patrolleerders in kennis van belangrike inligting soos wanneer ’n patrolleerder aktiveer of deaktiveer.
  • Dit dien as ’n patrolliejoernaal.
  • Dit stoor geoliggings, afstande en die duur van patrollies.
  • Dit dokumenteer enige voorvalle wat tydens die patrollie aangemeld is.

“Ons is baie dankbaar vir elke vrywilliger wat deel vorm van AfriForum om te help bou en hoop te skep vir ons toekoms. Hierdie is ’n groot stap vorentoe vir AfriForum se Oos-Moot-tak en ek sien uit na wat ons alles met dié Bot sal kan vermag,” sê Sampie Steinberg, die distrikskoördineerder vir Groter Pretoria.

Soortgelyke plasings