Oos-Rand skep hoop teen misdaad in Suid-Afrika


AfriForum het die afgelope naweek sy Projek Nehemia – ’n strategie teen geweldsmisdaad, wat verlede jaar in die Oos-Rand van stapel gestuur is – opgeskerp deur opleiding vir lede aan te bied.

Tydens dié opleiding het Oos-Rand-buurtwagte en die bevelsgroep van Projek Nehemia verskeie veiligheidsmodules bygewoon, met die doel om misdaad aan die Oos-Rand te bekamp en gemeenskapslede by te staan en weerbaar te maak. Die modules het bevel-en-beheer, gebiedsbeskerming, regsaspekte, huis-en-haardbeskerming en die bedryf van inligting ingesluit.

“Ons moet self verantwoordelikheid vir ons veiligheid neem – as ons saamwerk, kan ons gemeenskappe proaktief beveilig en ons inwoners weer hoop gee om teen misdaad op te staan, en dit is júís wat Projek Nehemia doen,” sê Jan Vermaak, bevelvoerder van Projek Nehemia.

Vermaak verduidelik dat hul strategie die inherente operasionele vermoëns tussen verskillende gemeenskappe op ’n doeltreffende wyse koördineer. Opleiding is dus ’n belangrike komponent van verskerpte gemeenskapsintelligensieprojekte.

“Ons moedig gemeenskappe aan om by veiligheidsinstellings betrokke te raak en hul eie veiligheid te prioritiseer. Opleiding in verskillende vakgebiede kan gemeenskappe beter in staat stel om binne die raamwerk van die wet op te tree en hul gemeenskappe weerbaar te maak,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidshoof vir die Noordstreek.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke: SMS “Buurtwag” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings