Oos-Rand-vullisterreine vaar nie te vrot tydens oudit nie


AfriForum het vandeesmaand vullisterreine in die Oos-Rand geoudit as deel van hul nasionale projek om die stand van vullisterreine in Suid-Afrika te meet.
Dié oudit vorm deel van ’n jaarlikse nasionale veldtog waartydens vullisterreine in dorpe, waar AfriForum-takke gevestig is, aan die hand van 33 vrae gemeet word. ’n Vullisterrein moet 80% behaal om aan die gestelde standaarde te voldoen, en die meeste van die vullisterreine in die Oos-Rand kon hierin slaag.
 
Volgens toepaslike wetgewing en regulasies, onder meer die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis, 2008 (Wet No. 59 van 2008), moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen waaronder toegangsbeheer, stortingsregulasies, lisensiëring, brand­regulasies, omheining en rehabilitasie.
 
Slegs twee vullisterreine het laer as 80% behaal. Die uitslae lyk soos volg:
 

Dorp Vullisterrein Persentasie
Alberton Heidelberg Road Transfer Station 93%
Benoni Northmead Mini Dumping Site 76%
Brakpan Weltevreden Landfill Site 89%
Germiston Simmer and Jack Landfill Site 92%
Kempton Park Highveld Transfer Station 97%
Kempton Park Chloorkop Landfill Site 97%
Primrose Marlands Mini Landfill Site 41%
Springs Rietfontein Landfill Site 88%

 
“Die groot vullisterreine word baie goed bestuur, maar daar sal egter meer aandag aan die bestuur van die kleiner terreine in die gebied gegee moet word. Algemene probleme wat AfriForum tydens die oudit ondervind het, is onder meer die afwesigheid van afvalbestuurslisensies en die instandhouding van die terreine se omheinings en hekke,” sê Marie Naude, AfriForum se distrikskoördineerder vir Gauteng-Suid.
 
AfriForum sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat vullisterreine wat tekortskiet op peil gebring word.
 

Soortgelyke plasings