|

Op pad na 300 000: AfriForum herbelyn sy bestuurstrukture

AfriForum het besluit om sy bestuurstrukture funksioneel te herbelyn om te voldoen aan die eise wat deur dié organisasie se sterk groei gestel word.

Nie net het AfriForum se ledetal pas die 226 000-kerf verbygesteek nie, maar dié organisasie se aktiwiteite, projekte en aantal vrywilligers het ook tienvoudig toegeneem oor die afgelope jare.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê binne die snelveranderende Suid-Afrikaanse sosio-politieke omgewing, kan AfriForum se sukses oor die afgelope dekade onder meer toegeskryf word aan die organisasie se vermoë om vinnig besluite te neem en effektief uit te voer. “’n Aansienlik groter AfriForum vereis dat dié organisasie deurlopende moet herbesin oor wyses waarop verseker kan word dat vinnige en effektiewe optrede ‘n kerneienskap van AfriForum kan bly.

“AfriForum het in lyn met die nuutste internasionale beste praktyke vir organisasies wat effektief binne snelveranderende omstandighede moet funksioneer, besluit om dié organisasie se bestuurstrukture funksioneel, eerder as suiwer hiërargies, in te rig.”

“Hierdie funksionele inrigting sal dit vir AfriForum moontlik maak om uitdagings veerkragtig in spanverband te kan aanpak. Daar is ook gefokus op opleiding om AfriForum se middelvlakbestuur te bemagtig om besluitnemingsmagte binne hulle onderskeie verantwoordelikheidsvelde te versterk,” verduidelik Kriel.

Die funksionele ingesteldheid van AfriForum se bestuurstrukture het tot gevolg dat dié organisasie se huidige uitvoerende komitee (UK) vervang word met twee kleiner funksionele strukture, naamlik ‘n operasionele bestuur en beleidsforum, wat onderskeidelik getaak sal wees om operasionele en beleidsbesluite te neem. As deel van die funksionele karakter wat die bestuurstrukture aanneem, het AfriForum se UK-lede besluit om weg te doen met hulle bestaande hiërargiese posbenamings as AfriForum se adjunk- uitvoerende hoofde en bestuurshoof en dit te vervang met posbenamings wat funksioneel beskrywend is. Hierdie verandering in posbenamings wysig nie die bestuurslede se bestaande posvlakke nie.

Kriel dien op beide die operasionele bestuur en beleidsforum.

Die ander lede van die genoemde twee nuwe bestuurstrukture en hulle nuwe posbenamings, is soos volg:

Operasionele bestuur:

Nic Arnold – Hoof: Strukture en Veiligheid

William Waugh – Hoof: Organisasiebou

Beleidsforum:

Alana Bailey – Hoof: Kultuursake

Ernst Roets –  Hoof: Beleid en Aksie

Barend Uys – Hoof: Navorsing en Ontwikkeling

Benewens bogenoemde strukture, is ‘n hoofde-,  bestuurs- en personeelforum ook tot stand gebring om interne kommunikasie en organisasiebelyning verder te verbeter.

AfriForum se netwerk van 135 plaaslike takke, 140 buurtwagte en meer as 9 500 vrywilligers, as kernrolspelers en AfriForum se kontakpunte op gemeenskapsvlak, sal steeds as ‘n integrale deel van AfriForum se span funksioneer deur onder meer AfriForum se nasionale kongres, streekberade, provinsiale konferensies, takvergaderings, jeugvergaderings en gemeenskapsprojekte en gemeenskapsaksies op grondvlak.

Soortgelyke plasings