Open Borders: Nuwe dokumentêr werp lig op skokkende gebrek aan grensbeheer

’n Nuwe dokumentêr, Open Borders, wat deur AfriForum vervaardig is ontbloot die absolute gebrek aan grensbeheer op Suid-Afrika se grens met Zimbabwe en kyk na die vlaag misdaad wat dit veroorsaak het.

Hierdie dokumentêr wys ook die uiterstes waartoe AfriForum se buurt- en plaaswag-vrywilligers moet gaan om die plaaslike inwoners en hul eiendom te beskerm teen die aanhoudende infiltrasie van smokkelaars en stropers in hierdie area. Kriminele aan Suid-Afrika se kant gebruik weer hierdie oop grense om gesteelde voertuie in Zimbabwe in te smokkel.

“Mens kan regtig nie verstaan hoe ernstig die situasie is tot jy dit self gesien het nie en dit is presies wat hierdie film poog om te doen. Met hierdie film neem ons die kyker saam met ons na hierdie areas om die chaos te beleef. Ons grensgebiede het in die wilde weste verander waar dit elke man vir homself is. Gemeenskappe het nie ’n ander keuse as om verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid te neem nie veral aangesien die regering glad nie daarin belangstel om hierdie areas suksesvol te patrolleer nie,” sê Jacques Broodryk, regisseur van die dokumentêr en veldtogbestuurder by AfriForum.

Op verskeie plekke is die grensdraad selfs gesteel en vir skrootmetaal verkoop, dit is hoe belaglik hierdie situasie geraak het.

“Vrywilligers wat deel is van AfriForum se gemeenskapsveiligheidstrukture waag elke dag hul lewe om oorgrensmisdaad te bekamp aangesien die owerhede klaarblyklik nie daarin belangstel om die probleem op te los nie,” sluit Broodryk af.

Die volgende aflewering van Open Borders sal kyk na Suid-Afrika se grens met Mosambiek.

Open Borders kan hier gekyk word.

Om AfriForum se gemeenskapsveiligheid-vrywilligers te ondersteun op die Zimbabwiese grens besoek www.openborders.co.za

Soortgelyke plasings