|

Openbare druk nodig om Onteieningswetsontwerp wat privaat eiendomsreg ernstig bedreig, te stop

Die burgerregteorganisasie AfriForum benadruk dat die aanvaarding van die Onteieningswetsontwerp [B 23 – 2020] ’n verwoestende impak op alle Suid-Afrikaners sal hê, veral in die konteks van huiseienaarskap, voedselsekerheid en ekonomiese verwoesting. AfriForum het vandag verdere kommentaar ingedien wat hierdie wetsontwerp sterk teenstaan. Dit volg nadat die Gekose Komitee oor Vervoer, Staatsdiens en Administrasie, Openbare Werke en Infrastruktuur weer ’n geleentheid vir kommentaar op die wetsontwerp geopen het soos dit voor die Nasionale Raad van Provinsies verskyn.

Die Nasionale Raad van Provinsies is die laaste hekkie wat die wetsontwerp moet oorsteek voordat dit wet word. Vorige kommentaar van die publiek oor die wetsontwerp is nie aan die Nasionale Raad van Provinsies voorgelê nie, maar eerder aan die Nasionale Vergadering. Daarom moet alle vorige kommentaar weer vir oorweging deur die Nasionale Raad van Provinsies ingedien word.

Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, het beklemtoon dat wetsontwerpe in die verlede in hierdie finale fase, wanneer dit aan die Raad van Provinsies gestuur word, weens openbare of internasionale druk in hul spore gestuit is. Ons moet elke geleentheid gebruik om hierdie wetsontwerp wat private eiendomsreg in Suid-Afrika ernstig bedreig, uitdruklik teë te staan.

“Dit is noodsaaklik dat die burgerlike samelewing en die publiek nie die bal so laat in die wedstryd laat val nie. Die stryd om private eiendomsreg te beskerm was lank en uitmergelend, maar ons moet aanhou om druk in hierdie kritieke stadium toe te pas,” sluit Van Zyl af.

AfriForum het dit vir die publiek maklik gemaak om kommentaar teen hierdie wetsontwerp in by www.onteiening.co.za. te dien.

Soortgelyke plasings