|

Oplossing vir SA se probleme is in selfdoen!

Gemeenskappe wat in die toekoms wil oorleef, sal toenemend dinge vir hulself moet doen omdat die staat nie die verpligting gaan nakom nie.

Dit was die kernboodskap wat gister op die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad in Pretoria weerklink het.

Gemeenskapselfstandigheid sal staatsafhanklikheid moet vervang, het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van die burgerregte-organisasie AfriForum gesê.

AfriForum het pas ’n baie suksesvolle 10 Dae van Selfstandigheid-veldtog afgesluit wat gemeenskappe regoor die land gemobiliseer het om self verantwoordelikheid vir die verbetering van hul dorpe en stede en veiligheid te neem. ’n Nasionale massapatrollie is gehou waarby meer as 3 000 mense betrokke was.

Beraadgangers het gehoor misdaad is ’n krisis en daar is sedert 1994 sowat 395 000 mense vermoor.

Kriel het gesê die beste manier waarop mense hulself beter kan beveilig is deur goed georganiseerde en verantwoordelike gemeenskapsbuurtwagte. AfriForum het reeds 67 sulke strukture en daar word beplan om dit binnekort te verdubbel. Die veiligheidsplan sluit in patrollies, reaksieplanne, radionetwerke en beheerkamers.

In die afgelope twee jaar het AfriForum sowat 400 gemeenskapsleiers opgelei en 2 500 mense het selfverdediging en ander opleiding gekry.

Kriel het gesê regering op plaaslike vlak gaan drasties agteruit.

In die eerste ses maande van vanjaar het AfriForum reeds 21 vullisterreine skoongemaak, 15 rioolaanlegte herstel en water-infrastruktuur onderhou, 500 straatligte herstel, 1 500 slaggate opgevul en meer as ’n halfmiljoen mense van goeie gehalte drinkwater voorsien.

Kriel het gesê dit word toenemend duidelik dat gemeenskappe keelvol vir swak regering is en besef dat hulle self sal moet moue oprol as hulle dienste wil hê.

AfriForum werk waar moontlik nou met plaaslike munisipaliteite saam. In gevalle waar dit nie gebeur nie, herstel AfriForum infrastruktuur waarna saakwaarneming toegepas word en uitgawes van stadsrade verhaal word.

 

Soortgelyke plasings