Oproer in Delareyville oor waterkrisis – nádat AfriForum waarsku


Dele van die Delareyville-gemeenskap het vanoggend in opstand gekom as gevolg van ’n konstante gebrek aan watertoevoer in die hele dorp.

“Vanoggend se voorval spruit skynbaar uit die feit dat ’n hut in die informele nedersetting aan die brand geslaan het. Inwoners het die brandweer geskakel, maar die brandweer was van geen hulp nie omdat daar glo nie water is om die brand mee te blus nie. Talle inwoners van die informele nedersetting en HOP-huise het by die dorp se waterkantore saamgekom waar hulle uit protes ’n waterpyp stukkend geslaan het,” sê Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder vir Stellaland.

Vandaar het die betogers by die brandweerstasie en toe by die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit se hoofkantoor betoog. Volgens Pretorius het die munisipale amptenare gevlug toe hulle deur die skare gekonfronteer is. Die skare het uiteindelik vreedsaam uitmekaar gegaan.

“Die AfriForum-tak in Delareyville het al sedert 2014 verskeie briewe oor die watersituasie op die dorp aan die munisipaliteit geskryf en vergaderings met hulle belê. Ons moes die afgelope Woensdag met die Tswaing-munisipaliteit asook die Ngaka Modiri Molema en Sedibeng distriksmunisipaliteite vergader het. Net Sedibeng het opgedaag. Die Tswaing-munisipaliteit het inderhaas vir Lebo Nxaxa, die waarnemende bestuurder van water en sanitasie, na die vergadering gestuur. Dit was duidelik dat hy nie weet wat die stand van die watersituasie in sy gebied is nie. Hy het aan AfriForum erken dat hy nie vir die pos gekwalifiseer is nie,” sê Pretorius verder.

Die Sedibeng-munisipaliteit wil graag hulp verleen ten opsigte van die Geysdorp-waterprojek. Elektriese kabels is egter vir die soveelste keer gesteel en dié munisipaliteit weier nou om dit weer te herstel voordat daar nie sekuriteit in plek is nie. Die plaaslike AfriForum-tak is nou besig om kwotasies te kry om self sekuriteit te voorsien.
Tydens ’n besoek aan die Geysdorp-waterprojek het AfriForum verneem van die jammerlike toestand waarin hierdie perseel is.

“Hierdie projek moet aan verskeie gemeenskappe kan water voorsien, aangesien daar is ’n ondergrondse meer is, maar swak bestuur aan die kant van die distriks- sowel as die plaaslike munisipaliteit veroorsaak dat dié projek na etlike jare steeds geen water verskaf nie. Die hekke is stukkend en hang oop, geen deur is gesluit nie, die elektriese kabels is gesteel en daar is geen persoon op die terrein nie. Dít terwyl al die woonbuurte in Delareyville dors ly,” sê Corne Cronje, AfriForum se streekshoof vir die Sentrale-gebied.
“Ons het by ’n dame by die informele woonbuurt gestop en gevra of hulle water het. Haar antwoord was dat hulle vir al jare lank geen watertoevoer het nie en sy het ons gesmeek om iets te doen om hulle te help. Dit is geen wonder dat inwoners in opstand kom nie, want water is ’n basiese reg wat van hulle ontneem word. Dit is hartverskeurend om te sien hoe klein kindertjies water met kruiwaens moet aanry,” sluit Pretorius af.

Raak by jou plaaslike AfriForum tak betrokke deur “Water” na 45351 te SMS (R1).

Soortgelyke plasings