|

Oranje meisieskool seëvier by Dink-of-Sink finaal

C&N Meisieskool Oranje het die afgelope naweek as junior- en seniorwenners by vanjaar se interprovinsiale Dink-of-Sink onvoorbereide Afrikaanse debatskompetisie weggestap.

AfriForum en verskeie media-vennote insluitend Beeld, Volksblad, Die Burger en Groot Ontbyt, het vanjaar dié debatvoering vir skole in Gauteng, die Vrystaat en die Wes-Kaap aangebied.

Paul Roos Gimnasium, Hoërskool D.F. Malan, C&N Meisieskool Oranje, Helpmekaar Kollege en die Afrikaanse Hoër Seunskool het tydens dié finaal, wat by AfriForum se hoofkantoor in Centurion plaasgevind het, teen mekaar te staan gekom.

Volgens Carien Bloem, koördineerder van onderwysprojekte by AfriForum, is die doel van die wedstryd om hoërskoolleerlinge se denk- en redenasievermoëns in Afrikaans te ontwikkel sodat hulle hulself later as volwassenes behoorlik kan uitdruk en standpunt kan inneem.

Leerlinge kry dus slegs vyf minute om voor te berei vir hul debat.

“By AfriForum beywer ons ons vir die bevordering van moedertaalonderrig en hierdie is die ideale geleentheid vir die uitbouing van Afrikaans as moedertaal. Debatvoering is ’n belangrike vaardigheid wat reeds van kindsbeen af by leerlinge gekweek moet word,” meen Bloem.

Volgens Imke Michau, kaptein van Oranje Meisieskool se senior debatspan, is die grootse uitdaging by só debatswedstryd om kalm te bly, te fokus op die onderwerp en terselfdertyd jou spanmaats aan te spoor. Sy sê voorts dat debat ʼn baie goeie platform vir leerlinge is om hul selfbeeld te verbeter, op hul voete te leer dink en ook om te redeneer oor aktuele en relevante onderwerpe.

“Die ervaring wat so debatvoering bied is belangriker as die oorwinning daarvan. Ons het baie pret gehad en die geleentheid gehad om oor lekker en interessante onderwerpe te debatteer,” meen sy.

Adele Dempers, ʼn Afrikaanse onderwyseres van Oranje Meisieskool, het aan Forum Nuus gesê dat hul skool se oorwinning ʼn baie groot en spesiale prestasie is. “Dit is werklik vir ons ʼn hoogtepunt dat twee Vrystaatse spanne die eerste nasionale Dink-of-Sink gewen het, omdat die kompetisie oorspronklik in die Vrystaat begin het.”

Sy het voorts gesê dat die meisies hul prestasie kan toeskryf aan ʼn holistiese skoolervaring omdat hul skool probeer om so veel as moontlik geleenthede te skep vir die meisies om kultureel, akademies én op sportvlak te presteer.

Barnard Beukman, redakteur van Beeld, het aan Forum Nuus gesê dat Dink-of-Sink ʼn goeie en interessante kompetisie is omdat leerling op hul voete moet dink, Inligting vinnig en korrek moet verwerk en weergee, en ook hulself behoorlik moet uitdruk.

“So kompetisie dwing leerlinge om so wyd as moontlik met begrip te lees en ontwikkel hul dus as jong mediaverbruikers. Hoewel al die spanne uitnemende debatte gevoer het, het Oranje Meisieskool as waardige wenners weggestap,” meen hy.

Die Dink-of-Sink finaal sal vanaf 10 tot 14 Oktober op die program Ontbytsake op KykNet kanaal 144 uitgesaai word.

Soortgelyke plasings