|

ORGANISASIES EN POLITIEKE PARTYE GOOI WAL TEEN VOORGESTELDE WYSIGINGS AAN VUURWAPENWET

Deur Alet Rademeyer

Verteenwoordigers van sowat 21 organisasies, verenigings en drie politieke partye het hul vandag daartoe verbind om die konsepwysigings aan die bestaande Vuurwapenwet met mag en mening, én tot in die howe as dit nodig is, te beveg.

Verskeie van dié organisasies het aan ’n konferensie by die AfriForum Teater deelgeneem en mondelinge insette gelewer teen die wysigings wat op 21 Mei in die Staatskoerant gepubliseer is.

Die deelnemers was Marnus Kamfer van AfriForum, Tshepi Mmekwa van Girls on Fire, Paul Oxley van Gosa, Gideon Joubert van DearSA, dr. Pieter Groenewald van die VF Plus, John Beare van Lowveld Hunters en Ian Cameron van Firearms.co.za en die #SafeCitizen-veldtog. Andrew Whitfield van die DA en Steve Swart van die ACDP het hul insette deur middel van video gegee.

Al die deelnemers is dit vurig eens dat die regering se planne en voorgestelde wetwysigings om burgers te ontwapen ten alle koste teengestaan moet word.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het ’n beroep op almal gedoen om nou saam te staan. “ ’n Lang stryd lê vir ons voor. Die regering is nie in staat om ons te beskerm nie en as ons moet kies tussen ’n onbevoegde regering en ons gesinne, gaan ons ons gesinne kies.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum

Kamfer sê die diaboliese plan van Bheki Cele, minister van polisie, gaan nie net ’n impak op gesinne hê nie, maar ook op jagters, sportskuts en versamelaars. “Die belangrikste is dat ons veldtogte teen die wysigings lewend hou en alles moontlik doen om burgers oor die gevare hiervan in te lig.”

Mmekwa het op die omvang van geslagsgebaseerde geweld in die land gewys en sê vroue moet aksie neem om hulself te beskerm. “Die polisie kan ons nie beskerm nie en daardeur dra die regering eintlik by tot die probleem van geslagsgebaseerde geweld. Ons kan nie langer slagoffers wees nie en moet onsself beskerm.”

Tshepi Mmekwa van Girls on Fire

Oxley, wat vuurwapeneienaars verteenwoordig, beklemtoon die feit dat die ANC-regering reeds vroeër, ook in 2018, met soortgelyke wysigings vorendag gekom het. “Ons kan nie ons voet van die pedaal afhaal nie. Ons moet dit end-uit met die samewerking van almal beveg.”

Hy moedig die publiek aan om elke platform en petisie tot hul beskikking te gebruik om beswaar aan te teken. “Ons verwerp die konsepwetgewing in geheel en ons gaan ook oorgaan tot massa-optrede om bepaalde eise aan die regering te stel. Gosa is van mening dat die administrasieproses rondom vuurwapenbesit en –beheer van die polisie weggeneem moet word omdat hulle bloot onbevoeg is om dit te doen.”

DearSA se Joubert sê meer as 90 000 mense het reeds op hul webtuiste voorstelle ingedien en net ’n enkele een hiervan is deur die regering oopgemaak. “Ons weet nie of die regering enigsins hierna kyk nie of dit net skrap nie.”

Joubert het na die polisie gekap wat burgers se wapens wil wegneem, terwyl soveel van polisielede se wapens verlore raak. In die eerste drie maande van vanjaar het 85 wapens van polisielede in Gauteng alleen weggeraak. “Net jy kan jouself die vinnigste in ’n noodsituasie beskerm. Ons het nie die regering se toestemming nodig om dit te mag doen nie.”

Groenewald het ’n pleidooi gelewer dat politieke en ander verskille opsy geskuif word omdat vuurwapenwetgewing mense oor alle grense heen ernstig raak. Hy het daarop gewys dat Cele voorhou dat die wetwysigings nodig is omdat misdaad toeneem weens onwettige wapens wat in omloop is. “Die regering het nie statistiek om aan te dui of wettige of onwettige wapens in misdaad gebruik is nie. ’n Probleem wat hulle nie erken nie is dat baie onwettige wapens by die polisie en weermag gesteel word. In ’n periode van 6 jaar het 4 500 polisie-vuurwapens en 10 miljoen rondes ammunisie verlore geraak of is dit gesteel. Wie is hier die skuldiges?

“Ons moet aanvaar die polisie het nie beheer oor vuurwapens nie. As wetsgehoorsame burgers se wapens weggeneem word, sal hulle oop teikens wees en huisrooftogte sal eskaleer.”

Die VF Plus leier Pieter Groenewald

Volgens Groenewald is die regering met ’n rookskerm besig omdat hy nie burgers kan beskerm nie. “Khehla Sithole, nasionale polisiekommissaris, het self in die parlement erken dat die polisie nie sy mandaat in terme van die grondwet kan nakom om burgers en hul eiendom te beskerm nie.”

Cameron meen misdaad het geen grense nie. Dit het die afgelope vyf jaar drasties toegeneem. “Die konsepwysigings is ondeurdag en soveel steun moontlik moet hierteen gewerf word.

“Daar is verskeie redes hoekom wetsgehoorsame burgers vuurwapens moet hê: Dit sluit in omdat die regering jou nie kan beskerm nie, die polisie self vuurwapens verloor, verkoop of self in misdaad gebruik, ’n goed opgeleide vrou wat ’n vuurwapen kan hanteer, haar teen ’n verkragter kan verset, jy nie in vrees hoef te leef nie en as die polisie jou nie kan kom help nie, jy dit self kan doen.”

Op ’n vraag of daar nie iets sinister agter die konsepwysigings is nie, sê Groenewald mense moet onthou die regering wil mense se grond sonder vergoeding onteien. “Hulle wil grond konfiskeer en hulle wil nie teenstand hê nie. Gaan kyk maar wat in die geskiedenis gebeur het in Hitler en Mao Zedong se regerings waar burgers ontwapen is. Miljoene mense het hul lewens verloor.”

Soortgelyke plasings